Regering ‘minagtend oor plaasmoorde’

 

Die Regering het die boere van Suid-Afrika gefaal, sê die VF Plus ná die toespraak van die Minister van Polisie op Agri SA se misdaadkonferensie.

Die Minister van Polisie, mnr. Nathi Mthethwa, se opmerking by ‘n konferensie van Agri SA, dat die Polisie plaasmoorde as net gewone misdaad beskou, bevestig dat die Regering minagtend is teenoor plaasmoorde, sê mnr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder oor polisie van die VF Plus.

“Die Polisie is vinnig om sekere misdade, soos transito-rooftogte en die opblaas van kitsbanke, as prioriteitsmisdade te beskou en dan sterk teenoptredes te beplan. Hoekom word hierdie misdade dan nie net as gewone misdaad beskou nie? Die minister en die Regering skram weg van plaasmoorde, juis omdat daar ‘n sterk element van rassisme betrokke is,” sê Groenewald.

“Die wreedheid waarmee veral plaasmoorde gepleeg word, is skokkend. Boere word keelaf gesny, gemartel met kookwater, ensovoorts. Boere in Suid-Afrika is die groep waaronder die meeste moorde plaasvind, gemiddeld 313 uit elke 100 000, en dan eers wetstoepassers, soos lede van die polisie, waar die syfer 153 uit 100 000 is.

“Die komitee wat plaasmoorde in 2003 ondersoek het, het toe reeds bevind dat die kanse dat die slagoffer in ‘n plaasaanval beseer sal word, twee maal so groot as in transito-rooftogte is. Die kanse dat die slagoffer sal sterf is drie maal so groot as in transito-rooftogte. As die Polisie transito-rooftogte as ‘n prioriteit kan beskou, des te meer behoort plaasmoorde as prioriteit beskou te word,” het Groenewald gesê.

“Die kommando’s is afgestel met die belofte dat daar nie ‘n vakuum in beveiliging sal ontstaan nie. sektorpolisiëring is ingestel, maar is ‘n mislukking. Die polisie hou sedert 2007 ook skielik nie meer rekord van plaasmoorde en plaasaanvalle nie.

“ ‘n Verslag deur die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening oor die ondersoek na die redes van wreedheid van geweldsmisdade is verlede jaar Augustus reeds voltooi, maar Mthethwa maak nie die verslag bekend nie. Dit is duidelik dat die Regering die boere van Suid-Afrika gefaal het,” sê Groenewald.

8 Maart 2010
 

5
 
 

Kommentaar

Attie

Ons sal hierdie ANC juk moet afgooi. Hulle kniehalter ons net. Dink net waar kon SA vandag gewees het sonder hierdie meulsteen wat ons om ons nekke moet dra.

André le Roux 

Hier het ons te doen met sagte tekens en die wete dat reaksietyd die moordenaars kans gee om weg te kom. Is die Minister se opmerking nie 'n aanduiding dat plaasmoorde nie op 'n ander vorm van grondherverdeling gemik is nie? Wat gepredik word oor sy beleid om gemoedere te sus moet nie net met 'n knippie sout geneem word nie, maar met 'n hele soutpan want wêreldwyd het politici geen moraliteit nie.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.