Riglyne vir brandbestryding

 

Nasionale riglyne gaan vir brand- en nooddienste opgestel word. Dit volg ná 'n landwye ondersoek aan die lig gebring het dat brande wat rampafmetings aanneem, nie na behore bestry kan word nie weens 'n gebrek aan opleiding, mannekrag, koördinasie en voldoende toerusting.


Volgens aanduidings is brandbestrydingsdienste in sommige provinsies op die rand van ineenstorting. Telefoon-, water- en elektrisiteitsdienste by van die brandweerdienste is opgeskort omdat rekenings nie betaal word nie.


In sekere gebiede pas nie een van die stasies wat ondersoek is, rampbestuur toe nie.


Van die grootste probleme is 'n gebrek aan doeltreffende bestuur, onderhoud (voertuie is soms vir maande nie padwaardig nie) en voldoende bemanning — in sommige gevalle weens buitensporige afwesigheid.


Wat personeelaanstellings betref, is gevind dat politieke gedienstigheid en vakbondaksies soms noodsaaklike kriteria oorheers.


Nuwe arbeidwetgewing gaan na verwagting ook 'n ongunstige uitwerking op skofte hê, veral in gevalle waar stasies reeds nie in staat is om aan reaksievereistes te voldoen nie.


"Daar sal in geheel weer na wetgewing oor brandbeheerdienste gekyk word vir die nodige aanpassings om eenvormige norme en standaarde vir brandbestryding te bepaal," sê me. Ntombazana Botha, voorsitter van die Brandweerraad en adjunk-minister van Provinsiale en Plaaslike Regering.


Dié raad wil brandbestrydingsopleiding koördineer en verbeter en alle betrokkenes, waaronder vrywilligers, voortaan onder die raad se beheer plaas.

16 April 2004

0