|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 19:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 77% |
| Wind: |
Die dispuut oor die registrasie van die naam rooibos as 'n handelsmerk in Amerika en die verbod op die gebruik daarvan deur teeverspreiders, het 'n nuwe kinkel gekry.
Die eienaar van die handelsmerk in Amerika, me. Virginia Burke-Watkins, het onlangs gratis lisensie-ooreenkomste aan verspreiders aangebied, solank hulle dit net vir teeverkope gebruik.
Mnr. Martin Bergh, voorsitter van Rooibos Beperk, sê dit nie so eenvoudig nie. "Dat sy ons nie meer 'n tantième gaan vra nie, is nie die punt nie. Sy moet net die naam rooibos afgee, want dis 'n generiese naam."
Mnr. Jan Stander, 'n vennoot in die handelsmerkafdeling van Adams & Adams, die prokureursfirma wat Rooibos Bpk. verteenwoordig in die saak om die handelsmerk in Amerika te laat kanselleer, sê vanuit 'n regsoogpunt sou dit nie die moeite werd wees om die aanbod vir lisensie-ooreenkomste te aanvaar nie. "Ons uitgangspunt is nog altyd dat sy nie geregtig is om die woord te registreer nie omdat dit 'n beskrywende woord is. Ons wil hê sy moet onvoorwaardelik van die handelsmerk afstand doen."
Rooibos Bpk. is nie die enigste maatskappy wat Burke-Watkins se reg op die naam beveg nie. Verskeie Amerikaanse maatskappye het regsgedinge aanhangig gemaak nadat Burke-Watkins begin toeslaan het op maatskappye wat dié woord in hul bemarking of op hul produkte gebruik.
Stander sê hulle wag om die uitslag van dié sake te hoor. "In die meeste gevalle word gevra vir die opheffing van die naam 'rooibos' en as een van hulle suksesvol is, val ons saak weg omdat dit die handelsmerk wat op die naam 'rooibos' geregistreer is, sal kanselleer."
Dié saak, wat al jare lank voortsleep, is nou op 'n punt waar getuienis gelewer moet word dat 'rooibos' in der waarheid 'n beskrywende woord is. Stander het gesê hulle wil bewys dat dit wel ten tye van die registrasie al 'n beskrywende woord in Amerika was, hoewel howe dáár die gesag het om 'n woord wat in sy tuisland beskrywend is, ook daar toe te pas. "Ons wil nie net daarop staatmaak dat die woord in Suid-Afrika beskrywend is nie," het hy gesê.
In hierdie stadium gaan 'n klein persentasie van Rooibos Bpk. se uitvoer na Amerika, maar Bergh sê dit is 'n groeiende mark met groot potensiaal.
14 Mei 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24