|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 19:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 77% |
| Wind: |
Internasionale landbou-joernaliste het kaalvuis die waarheid gehoor oor die uitwerking van gesubsidieërde produkte wat as sogenaamde voedselhulp in Afrika ingebring word ten koste van dié vasteland se boere.
"As die res van die wêreld regtig ernstig is oor hulp aan Afrika, moet dan nie kos subsidieër of hierheen bring in die naam van sogenaamde voedselhulp en ons boere uit produksie dwing nie," het hulle van mnr. Japie Grobler, voorsitter van Agri SA, gehoor.
"Suid-Afrikaanse boere is die onbeskermste groep boere ter wêreld. Wat hulle doen, doen hulle op hul eie," sê Grobler.
Hy het op die pas afgelope tiende wêreldkongres van die Internasionale Federasie van Landboujoernaliste (IFAJ) buite Bela-Bela (Warmbad) in Limpopo oor die rol van die Suid-Afrikaanse landbou as voedselmandjie vir Afrika gepraat. Volgens hom laat klimaattoestande nie toe dat Suid-Afrika dié rol vervul nie.
Die feit dat Suid-Afrikaanse boere sowat 22 % van Afrika se mielieproduksie lewer, 26 % van sy suikerriet en 79 % van sy sonneblomsaad, dui wel daarop dat hulle belangrike lesse geleer en kundigheid opgebou het waaruit die res van Afrika kan leer om hul eie boerderysektore ten volle te ontwikkel.
Die meeste ekonomieë in Afrika is op die landbou gebaseer. Volgens inligting vir 2001 was die landbou se bydrae tot die BBP meer as 20 % in bykans 29 van die 54 lande in Afrika. In die res van die lande was dit aansienlik hoër as die 3,1 % in Suid-Afrika.
"Die feit is dat Afrika op die landbou vir ekonomiese ontwikkeling steun. Die produksie van en handel in primêre produkte het egter weens onbestendigheid van 1997 tot 2001 meer as 50 % van sy koopkrag teenoor vervaardigde produkte verloor. Dit het belegging op kapitaal ernstig gekortwiek.
Altesame 43 van die 86 lande wêreldwyd wat voedseltekorte ondervind, is in Afrika en dit kan in die meeste gevalle toegeskryf word aan beleidaksies.
Suid-Afrika het goeie beleid op die boeke, maar die implementering daarvan is 'n ernstige probleem. Behoorlike navorsing, infrastruktuur en die oordrag van inligting is van die aspekte wat klaaglik misluk weens 'n gebrek aan prestasie, sê Grobler.
Mnr. Motsepe Matlala, voorsitter van die National African Farmers' Union (Nafu), het dit beaam en gesê inligtingsbestuur is van kritieke belang, veral wat die opkomende landbousektor betref.
"Ons het geen duidelike prentjie van voedselproduksie buite die kommersiële landbou nie."
2 April 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24