|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 19:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 77% |
| Wind: |
'n
Groep plaaslike kommersiële boere gaan Zimbabwe volgende maand besoek om
inligting in te win oor die wetteloosheid in die land en die moontlike
uitwerking daarvan op Suid-Afrika.
Mnr. Japie Grobler, president van Agri SA, het die afgelope week bevestig dat
afgevaardigdes van sy organisasie 'n deel sal uitmaak van 'n groot afvaardiging
onder leiding van mev. Thoko Didiza, minister van landbou, om die beleërde plase
in Zimbabwe te besoek.
"Daar is heelwat kommer onder ons boere omdat dit wat in Zimbabwe gebeur nou
ook in dié land begin voorkom, hoewel in mindere mate. Ons moet dit in die kiem
smoor. Maar ons moet self in Zimbabwe gaan kyk wat die grondoorsake is en hoe om
so 'n situasie in ons land te vermy," sê Grobler.
Hy betreur die feit dat die einste Zimbabwiese boere "wat ons geleer het hoe
om kommersieel te boer nou smeek om kos van ons".
Hy sê 'n onbevestigde aantal boere van Zimbabwe het hul toevlug tot
Suid-Afrika geneem, veral in Limpopo, waar hulle in diens geneem is as
konsultante en werkers vir plaaslike boere. Ander boere van daardie land het na
Mosambiek en Zambië gevlug waar hulle sukkel om 'n bestaan te voer.
Die afvaardiging na Zimbabwe sal ook lede van die National African Farmers'
Union, 'n nuwe organisasie vir swart kommersiële boere, insluit.
Die besluit om die afvaardiging te stuur, volg op 'n vergadering in hoë
kringe die afgelope week tussen pres. Thabo Mbeki, etlike kabinetslede en die
boere. Die vergadering is genoodsaak deur die toenemende kommer onder plaaslike
boere oor die land se grondhervormingsprogram en hoe dit met die een in Zimbabwe
vergelyk, en om te bepaal wat die uitwerking daarvan in die komende jare op
landbou sal wees.
Op die vergadering het Mbeki die landbou-unies ingelig oor die bilaterale
kommissie wat deur die twee lande ingestel is en die samesprekings wat tussen
die twee lande se ministers van buitelandse sake gevoer word.
Die drie uur lange vergadering het ook op voedselsekuriteit en hoë
voedselpryse gefokus, en die regering het hom weer eens daartoe bevind om hom
nie in die vrye mark vir landbougoedere in te meng nie.
Op die vergadering het die kommersiële landbouwerkgroep die president ingelig
oor vordering en uitdagings in die inwerkingstelling van die ambisieuse
landbousektorplan - wat deur die regering en landbou-unies opgestel is en wat
Mbeki in November verlede jaar aanvaar het.
Die minister van veiligheid en sekuriteit, mnr. Charles Nqakula, het op die
vergadering gesê die polisie maak vordering om plaasmoordenaars te vang, en 340
mense is al vanjaar in hegtenis geneem, teenoor 249 mense verlede jaar.
Agri SA sê plaasmoorde, wat die laaste paar jaar bestendig bly op sowat 145
moorde per jaar, is steeds onaanvaarbaar hoog.
Grobler sê etlike boere in Limpopo en die KwaZulu-Natalse Middellande kan nie
op hul eie grond boer nie weens indringings en toenemende wetteloosheid. Boere
word nie net aangeval nie, maar mense gebruik hul plase ook onwettig om diere
daar te laat wei, sê hy.
Veediefstal het ook die laaste tyd toegeneem.
Dit moet in die kiem gesmoor word, maar die Zimbabwe-presedent moet deeglik
deur plaaslike boere bestudeer word sodat daar geleer kan word uit Zimbabwe se
ervarings, ongeag op watter plan van aksie hulle in samewerking met die regering
besluit.
Agri SA hou die ontwikkelings in Zimbabwe fyn dop, in so 'n mate dat lede van
die boere-unie deel was van die groep verkiesingsmonitors van Suid-Afrika in die
jongste presidentsverkiesing in daardie land.
Die komende besoek, wat vir "een of ander tyd volgende maand" beplan word,
sal die eerste deur die landbou-unie wees met die spesifieke doel om die
boerderysituasie in Zimbabwe te beoordeel.
Bron: Rapport, Sondag, 17 November 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24