|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 19:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 77% |
| Wind: |
Dit was 'n fout dat die Wet op Munisipale Strukture munisipaliteite gemagtig het om eiendomsbelasting te hef voordat die wetgewing oor eiendomsbelasting gereed was.
Me. Thoko Didiza, Minister van Landbou en Grondsake, sê dié fout is besef ná onderhandelings met Agri Suid-Afrika se leiers. Sy het op Agri SA se kongres in Bloemfontein gesê die wetgewing oor eiendomsbelasting is juis bedoel om 'n raamwerk vir konsekwente belasting te skep.
"Die benadering van Agri SA om die proses te probeer beïnvloed, was na my mening die korrekte een. Dit is nodig dat gekyk word na die moontlike nadelige uitwerking van belasting.
"Dit is verkeerd om na grondbelasting te verwys. Daar bestaan nie iets soos grondbelasting in Suid-Afrika nie. Die wetgewing handel oor eiendomsbelasting. Dit raak elkeen, die grondeienaar wat minder as 'n hektaar besit sowel as kommersiële boere én mense wat in kommunale gebiede woon.
"Niemand kan weghardloop van belasting nie. Wat wel belangrik is, is om 'n aanvaarbare vlak te vind wat ekonomies sin maak vir die landbou."
Mnr. Japie Grobler, voorsitter van Agri SA, het gesê dié organisasie werp alles in die stryd om die wetgewing ten beste te beïnvloed. "Grondbelasting het die potensiaal om die volhoubaarheid van die kommersiële landbou te vernietig."
* Oor grondhervorming het me. Didiza gesê die voorgestelde onteieiningswet hou geen bedreiging vir grondeienaars in nie. Sy sê daar is veiligheidsmeganismes in die wetboek wat enigeen verhoed om buite die perke van bestaande wette op te tree.
Sy het gesê grondhervorming se mikpunt van 30 % grond teen 2015 is grond van kommersiële boere en sluit nie die grond in tuislande in nie. Die grond in die voormalige tuislande is 'n verdere 13 % van die beskikbare landbougrond.
24 Oktober 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24