|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 19:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 77% |
| Wind: |
Suid-Afrika kan in die volgende sowat 15 jaar warmer word, terwyl die gemiddelde reënval kan verminder. Dit is egter slegs aanduidings uit rekenaar-klimaatsmodelle en daar is heelwat onsekerheid oor die korrektheid van sulke voorspellings, het prof. Hannes Rautenbach van die Laboratorium vir Navorsing en Opleiding in Atmosferiese Modelering (LRAM) aan die Pretoriase Universiteit op Lambertsbaai gesê.
Rautenbach het op die jaarvergadering van die Sandveldse Aartappelkwekersorganisasie gesê Suid-Afrika is van nature 'n droë land en boere moet dus goeie reënjare as buitengewoon sien. Hulle behoort eerder hul beplanning om droogtes te doen. Van 1860 tot 2000 het die gemiddelde temperatuur in Afrika met 1 °C toegeneem. Sulke veranderinge kan veral in die tropiese en subtropiese deel van die vasteland 'n groot invloed hê, veral op die landbou.
Hy het gesê gesofistikeerde klimaatsrekenaarmodelle is al werklike manier om klimaatsveranderinge in die toekoms te voorspel. Redelik betroubare simulasies van toekomstige klimaatsveranderinge kan daarmee nageboots word.
Vyf jaar gelede is internasionale rekenaarmodelle vanoor die hele wêreld bekyk en die ses beste modelle is geïdentifiseer om toekomstige weerpatrone mee te voorspel veral wat kweekhuisgasse se toename betref. Dit is bekend dat kweekhuisgasse in die laaste eeu verdubbel het.
Al ses die modelle het 'n toename in temperature voorspel. Die gemiddelde temperatuur van die wêreld sal volgens dié modelle met sowat 2 °C in die volgende 100 jaar styg. Tot omtrent 1950 was die Noordelike Halfrond koeler as die Suidelike Halfrond, maar sedert 1980 is die Suidelike Halfrond besig om koeler te word as sy noordelike eweknie.
Die modelle dui daarop dat die klimaat in Suider-Afrika warmer gaan word. Tot die jaar 2020 word 'n toename van 2 °C tot 2,5 °C in Suid-Afrika voorspel.
Wat reën betref, het Rautenbach gesê die modelle se voorspellings verskil meer daaroor as by temperature. Tog blyk dit in die algemeen asof die meeste modelle 'n afname in die reënval vir Suid-Afrika en vir die Sandveld in besonder voorspel. Hy het egter beklemtoon dat daar nog heelwat onsekerheid daaroor is.
Volgens 'n Australiese klimaatsmodel kan die Wes-Kaap se winterreënval verminder. Reënval in die somer kan toeneem omdat dit voorspel word dat koue fronte ál verder suid van die land verby sal beweeg. Volgens reënvalstatistiek blyk dit asof reënval in die Sandveld in Augustus aan die afneem is, maar nie in die ander wintermaande nie.
Rautenbach meen die volgende vyf tot tien jaar moet weerseine fyn dopgehou word. Veral in die Noordelike Halfrond blyk dit dat die voorspellings al hoe meer in die kol is.
7 Mei 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24