|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 19:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 77% |
| Wind: |
Sowat R1 miljard per jaar sal oor die volgende 12 jaar nodig wees om tekorte aan kos vir die land se arm mense aan te vul, sê mnr. Dirk du Toit, Adjunkminister van Landbou en Grondsake.
Hy het repliek gelewer op 'n debat oor voedselsekerheid in die Nasionale Vergadering en gesê die geld daarvoor sal iewers gevind moet word. "Daar is byvoorbeeld R1,1 miljard wat uit die ou Landboukredietraad verkry is, maar byna dieselfde bedrag sal elke jaar vir die volgende 12 jaar nodig wees."
Mnr. Andries Botha van die DA sê die hoë potensiaal van grond in die oostelike kusstreke van die land moet ontgin word. Tradisionele gemeenskappe moet, met die samewerking van die staat, tradisionele leiers, landbouwetenskaplikes en kommersiële boere, opgelei word in die gebruik van kalk en spoorelemente.
"Al die skakels is egter nodig en die staat moet ophou om die wetenskaplike navorsers van die Landbounavorsingsraad te ondermyn, en politici moet ophou om kommersiële boere in die algemeen te demoraliseer," sê mnr. Botha.
Hy sê dit is ironies dat soveel mense in die land nie genoeg kos het nie, terwyl Suid-Afrika een van net sewe lande is wat 'n netto uitvoerder van voedsel en vesel is. Hierdie situasie ontstaan in 'n vryemarkekonomie wanneer ekonomiese groei nie tred hou met bevolkingsgroei nie. Op lang termyn is versnelde ekonomiese groei en werkskepping die enigste oplossing.
Die vestiging van voedseltuine moet aangemoedig word om mense op kort termyn te help, sê mnr. Botha.
Mnr. Bertie van der Merwe van die NNP sê die staat moet dit nie vir boere moeilik maak om kos teen bekostigbare pryse te produseer nie. Van die grootste struikelblokke is dat plaaslike boere nie teen ingevoerde kos beskerm word nie, die agteruitgang van landbounavorsing, en die instelling van grondbelasting sonder dat die impak daarvan bepaal is.
3 Oktober 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24