|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 19:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 77% |
| Wind: |
Die meerderheid Suid-Afrikaanse verbruikers steun die benutting van biotegnologie vir die ontwikkeling van nuwe medisyne, vesels, plastiek en gewaskultivars. Meer verbruikers steun ook die produksie van geneties gemodifiseerde (GM) voedsel as dié wat daarteen gekant is.
Dit is sommige van die bevindings van 'n onlangse opname wat onder beskerming van die Universiteit van Pretoria onder verbruikers in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad gedoen is. Verbruikers se kennis van GM voedsel is in die opname getoets, het prof. Jocelyn Webster, uitvoerende direkteur van AfricaBio, gesê.
'n Groot persentasie respondente het gemeen biotegnologie kan hul lewensgehalte verbeter, terwyl ander voordele vir die omgewing (20 %), gesondheid (13 %) en verminderde gebruik van plaagdoders (9 %) genoem het. Daar was kommer oor 'n vermeende gebrek aan kontrole (32 %) maar meer as 52 % het vertroue in regeringsbeheer, hoewel min geweet het watter maatreëls bestaan.
Respondente het verkies om inligting van 'n professionele biotegnologieliggaam te ontvang (42 %) of dieetkundiges (39 %) en verbruikers beskou inligting van die biotekbedryf meer geloofwaardig as dié wat aktiviste versprei (34 %).
Meer verbruikers (55 %) het etiese en morele besware teen genetiese modifikasie van diere as plante (37 %). Die meerderheid (64 %) het in die afgelope ses maande GM voedsel geëet, terwyl 65 % geen beswaar het teen die koop van GM voedsel nie. Hoewel steun vir biotegnologie hoog was, is daar nog heelwat waninligting en 'n gebrek aan kennis van die biotegnologiebedryf.
19 Maart 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24