Sasol-aanleg sluit dalk

 

Sasol Nitro gaan dalk sy aanleg by Phalaborwa se deure sluit. Gesprekke met belanghebbendes en aandeelhouers daaroor het reeds begin. Die betrokke aanleg vervaardig fosforsuur vir gebruik in onder meer die vervaardiging van kunsmis.

Die aanleg se winsgewendheid word grootliks bepaal deur ’n kombinasie van die pryse van rou materiale, verkoopsvolumes vir fosforsuur en internasionale pryse vir dié produk. ’n Afname in die vraag na fosforsuur het die Phalaborwa-aanleg se winsgewendheid ernstig geknou en Sasol voorspel ’n noemenswaardige verlies vir die aanleg.

“Ons het oor die jare heen na ’n paar opsies gekyk om die sluiting van die aanleg te vermy. Ons is bekommerd oor die moontlike uitwerking op ons werkers en die plaaslike gemeenskap. Ongelukkig is die situasie nie meer volhoubaar nie en ons moet verantwoordelike stappe oorweeg met ons aandeelhouers, ons mense en ons gemeenskap in gedagte,” sê mnr. Marius Brand, Sasol Nitro se besturende direkteur.

Die sluiting van die aanleg sal 245 Sasol Nitro-werknemers raak, asook 250 diensverskaffers se werkers. Die maatskappy het reeds onderhandelings met vakbonde, plaaslike besighede en die plaaslike regering begin om die uitwerking van ’n moontlike sluiting te verminder. As ’n koper vir die aanleg nie betyds gevind kan word nie, sal dit moontlik gesloop en die terrein gerehabiliteer word.

Onderhandelings en besprekings sal na verwagting tot Oktober duur. As ’n alternatiewe gebruik vir die aanleg nie gevind kan word nie sal hy sy deur einde Oktober sluit.

19 Augustus 2009

3
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.