JAN CILLIERS
Sektorpolisiëring wat die kommandostelsel op die platteland gaan vervang, volgens 'n aankondiging verlede week in die parlement deur mnr. Charles Nqakula, Minister van Veiligheid en Sekuriteit, is nie 'n nuwe begrip nie. Dit werk reeds goed in van die groter stede in die land.
Só sê supt. Charmaine Muller, 'n woordvoerder van die polisie. Sy sê die stelsel behels onder meer dat die gemeenskap betrek word om te help met die soeke na oorsake en oplossings van geweldsmisdade.
Volgens die minister se aankondiging in die parlement sal die kommandostelsel op die platteland, namate dit oor die volgende ses jaar uitgefaseer word, met 'n sektorale polisiemag van 35 000 lede vervang word. Dié mag sal deur 100 000 vrywillige reserviste bygestaan word. Van dié reserviste sal uit die huidige kommandolede gewerf word. Dit sal 'n taakgroep wees wat hom sal toespits op landelike beveiliging, soekoperasies en ondersoeke na ernstige misdade. Die eerste lede van die nuwe sektorpolisie voltooi reeds hul opleiding einde vandeesmaand.
Mnr. Kobus Visser van Agri SA sê die begrip van sektorpolisiëring as 'n magsvermenigvuldiger in landelike gebiede om voorkomend op te tree, kan verwelkom word. Hy sal net wil sien dat dit vinniger aan die gang kom. Die kommando's verrig egter funksies van landelike beveiliging wat beslis nie alles net so deur 'n polisiemag oorgeneem kan word nie. Iets sal in die plek daarvan gestel moet word om ook daardie besondere funksies van die kommando's oor te neem.
Mnr. Boela Niemann van die TLU SA sê hy het geen probleem met sektorpolisiëring nie, maar of dit gaan realiseer op die platteland, is 'n ander storie. Hy het ook nie vertroue daarin dat die polisie die taak van die kommando's sal kan oorneem nie omdat daar tans te veel politiek in die SA Polisiediens teenwoordig is. Die reservistestelsel was ook nog nooit 'n faktor in misdaadbekamping nie en hy kan nie sien dat dit nou op die platteland beter kan wees nie. 14 Maart 2003