|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 19:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 77% |
| Wind: |
In moeilike landbou-omstandighede het Senwes goeie resultate in 2010 behaal, wat ‘n winsplatform skep vir die beoogde notering op die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE).
Luidens ‘n nuusverklaring het Senwes in die finansiële jaar tot 30 April 2010 die tweede beste resultaat in sy 101-jarige bestaan gelewer. Hoewel die netto wins van R209 miljoen laer is as verlede jaar (R368 miljoen), is dit in pas met die groei wat in die vooruitsig gestel is.
“Ná ‘n uitsonderlike jaar wat die landbousektor in 2009 beleef het, was dié jaar in vele opsigte ‘n moeiliker een om volhoubare groei in resultate te verseker. Verdere waarde is steeds vir alle belanghebbendes geskep en die prestasienorme - wat goed vergelyk met dié van die landboubedryf - is gehandhaaf.”
‘n Gemiddelde saamgestelde groei van 13,2% in bedryfswins voor rente en belasting is oor die afgelope vyf jaar behaal. Die bedyfswins vir 2010 is R417 miljoen teenoor die R652 miljoen van die vorige jaar.
Bates groei met 8,4%
Oor dieselfde termyn het die batebasis met gemiddeld 8,4% gegroei. Senwes se totale bates het in 2010 altesaam R2,796 miljoen beloop, teenoor die R2,503 miljoen van die vorige jaar.
Senwes se aandeelprys het met 32,7% gegroei en met ‘n totale dividendopbrengs van 25,5% is ‘n totale opbrengs van 58,2% aan aandeelhouers gelewer.
Senwes sê die uitgestelde uitwerking van die wêreldwye ekonomiese afswaai op die landbousektor en lae graanpryse weens rekord-somergraanproduksie is van die minder gunstige omstandighede wat die afgelope landboujaar gekenmerk het. Gedurende die jaar het die koste van insetmiddele teruggekeer na normale vlakke, wat relatiewe deflasie teenoor 2009 se pryse tot gevolg gehad het. Die bo-normale reënval in die tweede deel van die reënvalseisoen was ook in teenstelling met die El Niño-jaar wat voorspel is.
‘n Finale dividend van 15 sent per aandeel is verklaar, onderhewig aan bekragtiging deur aandeelhouers op die algemene jaarvergadering.
1 Julie 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Die direkteure skep weer.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)