JAN CILLIERS
Boere wat lede van Senwes is, kan nou hul dieselaankope teen prysstygings verskans.
Mnr. Hentie Terblanche van Senwes Handel sê dié verskansing kan vir enige hoeveelheid diesel gedoen word vir enige maand of maande, of ál 12 maande van die jaar, sonder om die voordeel te verloor wanneer pryse daal. Dit werk net soos die roepopsie by mieliekontrakte.
'n Boer kan byvoorbeeld besluit om vir Mei, Junie, Oktober en November, wanneer hy gewoonlik die meeste diesel gebruik, 10 000 liter diesel per maand teen R3,20/liter te verskans. Sy premie, wat van maand tot maand verskil, word volgens 'n bepaalde formule bereken.
Gestel die dieselprys styg in September bo R3,20/liter, word die boer vergoed volgens 'n formule wat deur die Departement van Minerale en Energie bereken word. Dit maak nie saak of die totale hoeveelheid diesel wat hy verskans het, verbruik is nie.
'n Boer wat die prys waarteen hy diesel koop, verskans het, word uitbetaal wanneer die prys daarvan bo dié prys styg waarteen hy verskans het. Dié uitbetalings sal outomaties binne 15 dae ná die einde van die maand in sy Senwes-rekening inbetaal word.
Wanneer die dieselprys onder die vlak daal waarteen hy dit verskans het, koop die boer net die diesel teen die goedkoper prys by sy verskaffer.
Mnr. Terblanche sê verskansing moet ten minste twee maande vooruit gedoen word en premies is vooruitbetaalbaar. Pryse, krediet en die dieselrabat word nie hierdeur geraak nie. Boere betaal die kleinhandelprys vir diesel by Senwes en rekeninge is soos gewoonlik betaalbaar.
31 Oktober 2003