|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 19:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 77% |
| Wind: |
Die hofstryd van die private ekwiteitsgroep Treacle teen Senwes en sy beleggingsmaatskappy, Senwesbel, oor die geldigheid en eienaarskap van 8,3 miljoen aandele gaan daaroor om Senwesbel se aandeelhouding tot onder 35% te probeer afdruk.
Adv. Chris Eloff, vir Senwesbel, het gister in die Noord-Gautengse Hooggeregshof aangevoer dat Treacle verklaar het dat hy alles wettiglik moontlik sal doen om Senwesbel se aandeelhouding tot onder 35% te kry.
Omdat die statute bepaal dat dit nie laer as 35,1% mag daal nie, sal dit Senwesbel verplig om ’n aanbod aan ander aandeelhouers te doen om aandele teen die hoogste prys aan te koop. Senwesbel is aanvanklik gestig om boere se beheer oor Senwes te verseker.
“Dit is hoekom Treacle nou miljoene wil bestee aan iets wat tussen ses en sewe jaar gelede gebeur het. Dit is nie omdat dit ’n filantropiese liggaam is wat enigsins belang stel in die wel en wee van “dom boere”, soos wat Treacle dit stel nie.”
Kruks van die saak
Adv. Nic Maritz, vir Treacle, het vroeër toegegee dat die 35%-aandeelhouding die “kruks is waaroor die saak handel.” Hy het gesê as die aandele in dispuut gekanselleer word en Senwesbel se aandeelhouding onder 35% daal, sal “die kaartehuis in duie stort”.
“Dan sal hulle moet begin om met ander aandeelhouers te praat en konsensus te probeer bereik pleks van om net voort te vaar.”
Treacle, wat ’n belang van 15% in Senwes hou, beweer Senwesbel het sowat 8,2 miljoen aandele tussen Mei 2003 en April 2005 onregmatig bekom omdat dit met ’n Senwes-lening gedoen is. Hy voer aan dat nóg sowat 108 000 aandele deur Senwes gekoop is en toe, strydig met die Maatskappywet, aan Senwesbel oorgedra is.
Treacle vra dat die verkryging van die aandele deur Senwesbel as ongeldig verklaar en geskrap word. Daar word ook gevra dat die aandeleregister daarna reggestel word – ’n proses wat kan behels dat die oorspronklike 2 500 boere van wie aandele gekoop is, opgespoor sal moet word.
Die saak duur voort.
1 Junie 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Die feit dat die oorspronklike aandeelhouers nie opgespoor sal kan word om die regstelling te kan maak nie, beteken nie dat Senwesbel dan maar die aandele wat hy onwettig bekom het kan behou nie. Hy moet maak wat hy oorspronklik onderneem het om te doen, naamlik kanselleer die aandele en Senwesbel moet ook al die dividende daarop terugbetaal.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)