Jan Cilliers
"Die poging van die voorsitter van Senwes om 'n verlies van R196 miljoen as 'n bedryfswins van R69 miljoen voor te stel, is misleidend. Die finansiële state toon duidelik die groep het 'n verlies van R196 miljoen gely en dat geen wins gemaak is nie.
Die gepubliseerde finansiële state van Senwes voldoen beslis nie aan die SA Standpunte van Algemeen Aanvaarde Rekenkundige Praktyk nie, en openbaar nie die werklike toestand van sake nie."
Só meen mnr. Willie Labuschagne, voorsitter van Landboulex, 'n maatskappy wat namens 'n groep aandeelhouers probeer om die direksie van Senwes op die volgende jaarvergadering aanstaande maand te vervang. Mnr. Labuschagne is self 'n geoktrooieerde rekenmeester.
Hy het op 'n nuuskonferensie in Pretoria gesê Landboulex en die aandeelhouers van Senwes wat hy verteenwoordig, is uiters bekommerd oor die uitsprake in die voorsittersverslag wat saam met die jaarverslag en finansiële state van dié landboumaatskappy uitgereik is.
Vergeleke met met die vorige jaar se state is wesenlike veranderings in die jongste finansiële state aangebring in 'n poging om Senwes se finansiële resultate beter te laat lyk as wat dit werklik is.
"Die meeste van die uitgawes, soos waardevermindering van bates, beleggings en bedryfslenings, voorsiening vir graanrisko's, twyfelagtige skuld, mediese voordele vir afgetredenes en herstruktureringskoste wat in die jongste state as abnormale uitgawes aangetoon word, word in die vorige drie jaar se state as gewone uitgawes aangedui. Senwes het dus inderdaad 'n verlies van R196 miljoen vir die boekjaar tot 30 April vanjaar gely en nie 'n wins van R69 miljoen, soos wat die voorsitter beweer nie."
Mnr. Labuschagne sê dit beteken dat aandeelhouersbelang in Senwes met nog R196 miljoen gestroop is. "In die vorige jaarverslag word die aandeelhouersbelang in Senwes as R526 miljoen aangegee. In die jongste verslag het dit tot R330 miljoen gedaal. Die vernietiging van aandeelhouersgeld het van 2000 tot 2002 met R533 miljoen gedaal, maar volgens die voorsittersverslag maak die direksie daarop aanspraak dat hulle omdraaistrategie reeds begin vrugte afwerp. As die afdraendepad van Senwes in die volgende twee jaar dieselfde koers as die afgelope twee jaar volg, sal die maatskappy teen 2004 finaal bankrot wees."
Hysê aandeelhouers se belang in Senwes is nou 11 % van die totale bates, terwyl dit in die vorige boekjaar nog 16 % was. Dit beteken dat byna 90 % van alle Senwes-bates nou deur kapitaal van buite gefinansier word wat die risiko van insolvensie wesenlik laat toeneem.
Hy het ook verwys na die uitgestelde belasting van R113,2 miljoen wat in Senwes se finansiële state as 'n bate aangegee word. Dit is geheel en al teenstrydig met die SA Standpunte van Algemeen Aanvaarde Rekenkundige Praktyk, het mnr. Labuschagne gesê.
27 September 2002