|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 19:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 77% |
| Wind: |
Die Britse maatskappy Eurodix, 'n groot invoerder van sitrus uit onder meer Suid-Afrika, het aangekondig dat hy R62 000 sal bydra tot die bou van 'n kleuterskool vir plattelandse kinders op Buffeljagsrivier naby Swellendam.
Dié kleuterskool vir 100 kinders is 'n inisiatief van die Early-learning Rural Foundation (ERF). Dié nie-regeringsorganisasie wil verseker dat kinders uit landelike gebiede in die Wes-Kaap van 'n vroeë ouderdom af toegang tot onderwys het, veral in gemeenskappe waar armoede, werkloosheid en alkoholisme algemeen voorkom.
Na verwagting sal die gebou ook gebruik word as 'n gemeenskapsentrum waar volwasse onderwys en kursusse oor MIV en die voorkoming van alkoholmisbruik aangebied sal word.
Me. Sarah Cornaby, direkteur van ERF, sê die skenking sal die stigting in staat stel om een van die drie beplande klaskamers te bou. Sy sê daar is 'n dringende behoefte aan só 'n instelling in die omgewing omdat talle kinders bedags sonder toesig is terwyl hul ouers werk.
Mnr. Alex Fortmann, die hoof van Eurodix se plaaslike bedrywighede, sê die maatskappy dryf sedert 1996 met boere van die distrik handel. Hy voel deur te help met die finansiering van die kleuterskool kan hy 'n bydrae lewer om plaaswerkers se lewensgehalte te verbeter.
Die plaaslike stadsraad het grond vir die kleuterskool beskikbaar gestel en die Verenigende Gereformeerde Kerk en die Swellendam Rotariërkub is ook ten nouste betrokke by die projek.
5 Maart 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24