Skok-verslag oor water

 

’n Skok-verslag oor toetse wat op watergehalte in die omgewing van die Grootegeluk Exxaro Steenkoolmyn by Lephalale in Limpopo gedoen is, dui daarop dat die water “vrot”is.

Uit die toetse blyk dat op vier verskillende plekke in die omgewing besmetting van water met E. coli bakterieë, die aanvaarbare beperking met tot meer as 30 000 kolonies/100 ml oorskrei. Die beperking vir drinkwater is 0 kolonies/100 ml.

Die TLU SA Noord gaan ondersoek instel na die oorsaak van die besoedeling en regstappe doen as nalatigheid bewys kan word. Dit raak nie net drinkwater nie, maar ook besproeiing van vars groente.

’n Samewerkingsooreenkoms gaan met die fakulteit bosbou en omgewingsake van die Eberswalde Universiteit vir Toegepaste Wetenskap in Duitsland gesluit word in die stryd teen waterbesoedeling in Limpopo.

Die universiteit sê in ’n brief aan dr. Wilhelm Schack, voorsitter van die Limpopo Omgewingsbeskermingsforum, studente en interns van die universiteit kan behulpsaam wees met die forum se doelwitte om een van die laaste betreklik onbesoedelde gebiede in Suid-Afrika te beskerm.
Volgens Schack sal dit die georganiseerde landbou help met onafhanklike professionele bevindings ten opsigte van “verwoestende industriële ontwikkeling in Limpopo”.

’n Stuurkomitee van die die Nasionale Waterforum, wat in September gestig is, het op ’n vergadering op 14 Oktober besluit dat ’n landwye opname van die omvang en intensiteit van waterbesoedeling noodsaaklik is.

Daar sal ook gekyk word na bewusmaking en opvoeding. “Dit is eweneens belangrik dat georganiseerde landbou sy aandeel in besoedeling sal besef en sy verantwoordelikheid nougeset nakom,” sê mnr. Louis Meintjes, sameroeper van die forum.

21 Oktober 2009
 

4.75
 
 

Kommentaar

Willem Bouwer

Die waterkwaliteit is werklik sorgwekkend.Indien besoedelling, radio-aktiwiteit, medikasie en hormoon opbou so aanhou sal die onbruikbaarheid van die water erger nadele as 'n droogte inhou.'n Droogte gaan oor, maar hierdie tipe besoedelling hou permanente gevaar in. Ek dink nie daar word vinnig genoeg aan hierdie probleem aandag gegee nie.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.