JOHAN COETSEE
Dit is uiters onbillik om van 'n werkgewer te verwag om swak skuld wat deur van sy werknemers aangegaan is, te bestuur. Die risiko van lenings moet op die onderneming geplaas word, en nie deur 'n hofbevel op die werkgewer nie, het ds. W.J. Dreyer van Witzenberg tydens die streekkongres gesê.
Hy het 'n beskrywingspunt ingelei waarin die regsgeldigheid van hofbevele - wat veroorsaak dat werkgewers skuld van werknemers se lone moet aftrek en oorbetaal aan skuldeisers kragtens die Wet op Minimum Lone - as uiters onregverdig en nadelig bestempel word.
Ds. Dreyer het gesê behalwe dat dit onregverdig en onbillik is, kan dit boonop die verhouding tussen 'n werkgewer en werknemer erg beduiwel. Die groot sondaars hier is geldskieters, wat dikwels geld aan werkers leen op grond van die boer se vermoë as werkgewer, wat dan pa moet staan vir die skuld wanneer probleme opduik.
Mnr. Christof Cloete, voorsitter van Agri Wes-Kaap, het gesê dit is maar een van die baie voorbeelde van hoe onuitvoerbaar dele van die nuwe wet is. Dit is tog net logies dat die persoon wat die skuld gee, die verantwoordelikheid daarvan moet dra.
Mnr. Carl Opperman, hoofbestuurder van Agri Wes-Kaap, het gesê hoewel die Regering sê die landbou het nie vooraf insette in die Wet op Minimum Lone gegee nie, is dit onwaar. Daar is volledig insette gelewer, maar dit is bloot oor die hoof gesien. So onlangs soos 24 Februarie is nog met die Minister van Arbeid onderhandel en is hy attent gemaak op sekere probleme onder meer hoe onrealisties twee tipes minimum lone is.
Die minister het gesê die wet kan deur die hof terugverwys word, en dit is nou ál uitweg wat oorbly vir die landbou omdat alle gesprekke skynbaar op dowe ore geval het.
Mnr. Opperman het dit beklemtoon dat die landbou nie gekant is teen die wet nie, maar het wel 'n probleem met die eensydige veranderings wat aan diensvoorwaardes gemaak is.
* 'n Voorstel dat Agri Wes-Kaap se ledegeld vanaf R600 na R700 per jaar, BTW ingesluit, verhoog word, is eenparig aanvaar.2 Mei 2003