|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 19:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 77% |
| Wind: |
‘n Eenjarige seun van ‘n plaas buite Bothaville, asook ‘n 15-jarige seun van dié dorp, is van die jongste bevestigde gevalle van Slenkdalkoors in die Vrystaat.
Luidens ‘n berig van Nuus24.com was Chirstiaan Ugever vier weke lank siek. Sy ma, Orna, sê hy het kort voor die afgelope skoolvakansie siek geword, en is vir mangelontsteking behandel.
Volgens die berig het die dokters onraad begin vermoed toe Christiaan na sy derde kursus antibiotika steeds baie siek was. Na bloedtoetse het dokters bevestig dat hy wel met Slenkdalkoors besmet is. Die siekte is vermoedelik deur ‘n muskietbyt oorgedra.
“My kind was in ’n stadium so siek hy kon nie loop nie en hy het verskriklike hoë koors gehad. Hy kon ook nie meer met sy handjies goed vasvat nie. Sy lyfie is nou nog baie seer,” vertel Orna.
Gesond en by die skool
Intussen is Meyer Steyn, ‘n 15-jarige seun van Bothaville, ook sowat drie weke gelede met dié virus besmet. Hy het glo ook twee weke voor die skoolvakansie siek geword.
“Meyer het keelinfeksie gehad en is behandel vir griep. Hy was baie siek,” vertel Henriette, sy ma. Hy is ook vir geelsug behandel. Volgens die berig is Meyer nou weer gesond en terug by die skool.
Totale menslike besmettings meer as 100
Intussen het die Departement van Gesondheid bekend gemaak dat die totale aantal menslike besmettings in die land op 104 staan. Luidens ‘n verklaring is sewe mense reeds aan die siekte dood. Die eerste sterfte is op 13 Februarie aangeteken.
Van die 104 infeksies was 78 gevalle en vier sterftes in die Vrystaat, sewe gevalle in die Oos-Kaap, 18 gevalle en drie sterftes in die Noord-Kaap en twee sterftes in Noordwes.
13 April 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)