Voorkomende optrede is steeds die beste medisyne om die huidige epidemie van Slenkdalkoors in die land te bestry.
Hoewel van die huidige groep slagoffers van Slenkdalkoors skynbaar deur muskiete gebyt is, bly regstreekse kontak met besmette vee of plase waar besmette vee voorkom, die grootste risikofaktor vir die besmetting van mense, sê dr. Cloete van Vuuren. Hy is verbonde aan die departement van interne geneeskunde aan die Universiteit van die Vrystaat.
Hy sê wanneer die sogenaamde vloedwater-broeiende muskiete ’n dier besmet, kan enige ander muskiet wat dan op die betrokke dier teer, ook met die virus besmet word en dit aan ander diere en selfs mense oordra. Van Vuuren sê as ’n voorsorgmaatreël kan mense insekwerende middels gebruik en langmouklere in die veld dra.
Bly weg van besmette diere
Afgesien van besmette muskiete kan mense Slenkdalkoors opdoen deur kontak met bloed en ander liggaamsvloeistowwe wanneer siek diere geslag of hul onverwerkte melk gedrink word. Mense moet dus kontak met besmette diere vermy en nie ongepasteuriseerde melk drink nie.
Lees ook:
Slenkdalkoors: Dooie entstof byna hier
Boere en veeartse moet beskermende klere dra wanneer hulle met siek diere werk. Boere moet eerder kontak met moontlik besmette diere heeltemal vermy en nadoodse ondersoeke aan ’n veearts oorlaat.
Van Vuuren sê tydens die vorige groot uitbreking van dié siekte tussen 1974 en 1976 het tussen 10 000 en 20 000 mense dit onder lede gehad. Sedert die eerste bevestiging van dié siekte onder mense en klein- en grootvee in Februarie vanjaar, het veeboere skade van miljoene rande gely.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie onderskei op sy webblad tussen ’n minder ernstige vorm van Slenkdalkoors by mense en ’n ernstige vorm. Hier is die simptome.
Minder ernstige vorm
Die tydsverloop vanaf besmetting tot die aanvang van die simptome van Slenkdalkoors wissel van twee tot ses dae. By die minder ernstige vorm ervaar diegene wat besmet is, geen merkbare simptome nie, of hulle ontwikkel ’n ligte vorm van die siekte, wat gekenmerk word deur ’n koorssindroom met die skielike aanvang van griepagtige koors, spierpyn, gewrigspyn en hoofpyn.
In minder as 1% van die gevalle ontwikkel pasiënte nekstyfheid, ligsensitiwiteit, ’n verlies aan eetlus en vomering. By hierdie pasiënte kan die siekte in sy vroeë fase maklik verkeerdelik as meningitis gediagnoseer word.
Die simptome van Slenkdalkoors duur gewoonlik vier tot sewe dae, waarna die liggaam se immuniteitsreaksie waarneembaar word met die verskyning van teenliggaampies en die virus wat geleidelik uit die bloed verdwyn.
Ernstige vorm
Terwyl die meeste menslike gevalle minder ernstig is, ontwikkel ’n klein persentasie pasiënte ’n baie ernstiger vorm van Slenkdalkoors. Dit kom gewoonlik voor as een of meer van hierdie duidelike sindrome:
Oogaantasting (0,5% tot 2% van pasiënte)
Hemoragiese koors (minder as 1%)
By die eerste sindroom gaan die gewone simptome wat met die ligte vorm van die siekte verwant word, gepaard met skade aan die netvlies van die oog. Die aanvang van die skade aan die oë is gewoonlik een tot drie weke ná die verskyning van die eerste simptome.
Pasiënte ervaar gewoonlik onduidelike of verminderde sig. Die siekte kan self binne 10 weke tot 12 weke verdwyn sonder enige blywende gevolge, maar as daar verdere skade aan die oog voorkom, kan 50% van pasiënte permanente sigverlies ervaar. Sterftes by pasiënte wat slegs oogaantasting weens die siekte ervaar, is ongewoon.
Die aanvang van die meningoënsefalitis-vorm van die siekte is gewoonlik een tot vier weke ná die eerste verskyning van slenkdalkoors. Kliniese kenmerke sluit in hewige hoofpyn, geheueverlies, hallusinasies, verwarring, disoriëntering, duiseligheid, stuiptrekkings, slaperigheid en koma.
Neurologiese komplikasies kan later verskyn (binne 60 dae). Die sterftesyfer onder pasiënte wat slegs hierdie vorm van die siekte onder lede het, is laag, hoewel blywende neurologiese verlies, wat baie ernstig kan wees, algemeen is.
Die simptome van die hemoragiese vorm van die siekte verskyn twee tot vier dae ná die aanvang van die siekte en begin met tekens van ernstige lewerskade, soos geelsug. Daarna verskyn tekens van bloeding, soos die vomering van bloed, bloed in die stoelgang, bloeding in die vel, bloeding
van die neus of tandvleis en oormatige bloeding.
Die sterftesyfer onder pasiënte wat aan die bloedingsvorm van die siekte ly, is ongeveer 50%. Die dood tree gewoonlik drie tot ses dae ná die aanvang van die simptome in. Die virus kan tot 10 dae lank waargeneem word in die bloed van pasiënte wat die siekte oorleef. Die algehele sterftesyferverhouding verskil baie van epidemie tot epidemie, maar in die algemeen is dit minder as 1% van die gevalle wat aangeteken is.
15 April 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)