Soedan soek SA boere

 
Suid-Soedan. Foto: www.amdg.ie
Suid-Soedan. Foto: www.amdg.ie

“Hulle is baie angstig om volgende maand nog ‘n afvaardiging van Suid-Afrikaanse kommersiële boere te ontvang,” sê dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, oor Soedan. Hy het verlede week met mnr. Abdehalin Alnutasue, Soedanse minister van landbou, en ‘n regeringsafvaardiging vergader.

De Jager sê dié regering wil veral boere na Suid-Soedan nooi, wat waarskynlik onafhanklik van die Arabiese regering gaan word. “Die gebied is egter nog nie stabiel nie.” Die land boer op klein skaal, en gemiddelde plase is tussen 16 ha en 20 ha groot.

Lees ook:

Afrika soek SA boere

Wil voedselsekuriteit skep
Volgens De Jager wil Soedanse regering plaaslike boere betrek om te help om voedselsekuriteit te verbeter en die land in ‘n uitvoerder van voedsel te omskep. Hy sê groot plase van tussen 400 ha en 1 000 ha, in ‘n gebied soortgelyk aan Hartswater in die Noord-Kaap, word aan Suid-Afrikaanse boere beskikbaar gestel.

Die distrik het ‘n jaarlikse gemiddelde reënval van tussen 400 mm en 700 mm, tussen Julie en Oktober. Soedan wil glo ook grond in die reënvelde, wat in die middel en suidelike dele van die land lê, vir Suid-Afrikaners opsy sit. 

Boere in Soedan boer glo grootliks met graan en kleinvee, en volgens De Jager is daar geen kommersiële vrugteboere nie. “Daar is ook geen groot veeboere of voerkrale nie. Die meeste vleis word van nomadiese boere af verkry.”

De Jager sê die land het ‘n groot behoefte na koring-, mielie-, sonneblom- en piesangaanplantings, asook suikerplantasies. Hy sê volgens die Alnutasue beskik die land oor vyf suikermeule wat 800 000 ton suiker per jaar produseer, maar daar moet jaarliks ‘n verdere 500 000 ton suiker ingevoer word.

“Hulle stel baie belang in suikerboere. Daar is glo ook ruimte vir ‘n miljoen ton suiker ten opsigte van handel met Arabiese state,” verduidelik hy.

Goeie hulpbronne
Volgens De Jager is tussen 2 en 4 miljoen ha van Suid-Soedan se grond onder vloedbesproeiing in die wit- en blouvlaklyn. Hy sê die gemiddelde diepte van water onder die grond is 25 m, en daar is ook goeie watervoorrade onder die woestyn.

Alnutasue het De Jager ook ingelig dat hulle kragtariewe tans 7 sent/kWh is en dat dié land groot elektrisiteitsurplusse het, veral in die winter wanneer lugversorgers nie baie gebruik word nie. “Die gemiddelde temperature daar is tussen 17 en 25 grade Celsius,” vertel De Jager.

Geen belasting vir boere
Die Soedanse regering bied hernubare kontrakte van 25 jaar aan Suid-Afrikaanse boere. “Hulle kan die grond koop, of in ‘n vennootskap met Soedanse boere ingaan,” verduidelik De Jager.

Hy sê die land het reeds vier Europese maatskappye wat daar boer, en hulle wil Suid-Afrikaners op dieselfde vlak betrek. “Daar is geen belasting op boere of plase nie, en ook nie op verwerking nie. Plaaslike boere betaal nie vir water nie, so as boere in ‘n vennootskap met plaaslike boere ingaan, sal hulle geen watertariewe betaal nie. Daar is wel ‘n belasting wat Zakhat genoem word, maar dit is net van toepassing op die Moslems,” verduidelik De Jager.

De Jager sê die Soedanse regering het reeds hulle aanbod met me. Tina Joemat-Pettersson bespreek. Hy sê daar is egter nog geen besluite oor die aanbod of enige besoeke geneem nie.

Lees ook:

SA boesoek toe nie die Kongo

26 Februarie 2010

0
 
 

Kommentaar

Staatmakerboere 

Boere kan liewer die pad volg soos baie van die jong boere, na Brazil, so stil-stil al onder Mbeki se neus uit baie van hulle, en die top jong manne daarby. Daar staan die regering reg met die grond, die toerusting en alles, en boonop is die diesel-uit-mielies daar pure "SA know-how"

10111 

Ons het baie boere sonder grond. Stuur hulle Soedan toe. Baai!!!

noord getrek 

Het zambia toe gekom 15 jaar terug, nog hier ma gee my n plaas in SA en gaan terug.Kinders moet in Sa skool gaan dit is nie maklik nie en soos kan ek aan gaan. Dit gaan goed maak n lewe ook maar net AFRIKA.

Onbekende besoeker 

Ek is al 3jaar in Tanzania nee ek boer nie maar as ek more die geleentheid kry dan sal ek.Die mense het miskien baie om te leer maar een ding wat die sw-rtes in SA kan kom leer is dankbaarheid hulle is so dankbaar dat ons hier is om hulle te leer om self te ontwikel en vooruit te gaan.In SA het ons dit als gehad maar dis nou besig om te vergaan want ons nuwe boere boer als in hul mo-r.

Koepel 1. 

Hoekom nog n ander verpletterde afrika land op die been probeer kry as daar soveel meer moontlikhede in S.A is? Kom ons sorg eerder ons sorteer ons eie probleme uit en boer leker voort in die land wat ons almal so lief het. Staan op teen plaas moorde!

SA Boer 

Die mense wat dit wil doen moet hulle huiswerk baie goed doen. Ek is sederd Nov 2009 betroke by ‘n projek in die suide van Sudan. Ons wil poog om 100 000 ha te ontwikkel. Ek sal nooit hier vir myself kom boer nie. Die afgeleefde oorlog se wonde is groot en oral word mens geintemedeer by padblokkades. Trokke met voorraad word geskud by die blokkades, omkoop geld word betaal of jy moet kontakte hê met regerings beamptes . Die UN het die mense bederf met verniet kos hulle wil nie werk nie. Buiten is hulle baie onvaardig en moet alles geleer word. Net die prys van brandstof is redelik verder is kos en verbruiks artikels baie duur en van swakgehalte. Sudan is ‘n ashoop vir swak Chinese produkte. En as hulle vir jou sê ( Gawadja ) moet jy weet jy gaan betaal……ek is net hier om my plaas in SA te betaal, dit is waarheen ek terug gaan.

Onbekende besoeker 

Versigtig boere, as julle dink ons het probleme in die landbou hier in SA, maal soedan met so tien en dan kom die politiese onstabiliteit ook nog by. Ek verstaan nie dat ons boere suid afrika wil verlaat vir ander afrika land(verder noord) nie.Miskien kan iemand ons inlig hieroor. Is daar enige boere (nie insluitend suidelike afrika)wat meen dis die moeite werd?

Onbekende besoeker 

Is Sudan nie die land waar die Christene na die Suidelike droër dele, verban word nie? Moet mens met so 'n regering onderhandel? Sal die boere wat soontoe gaan geloofsvryheid kan geniet

HKGK 

Ek verstaan nie hoe die regering nie hul boere oppas nie. Hulle sien mos hoe Afrika "shop" vir ons boere! Die Soedan opsie lyk darem bietjie meer aanlokliker as die Kongo.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.