|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 21:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die Regering verloor waarskynlik jaarliks sowat R40 miljoen aan belasting en BTW weens onwettige handel in die tabakbedryf. Dié bedryf ly eweneens skade.
Volgens syfers van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het die Regering en die tabakbedryf gesamentlik sowat R80 miljoen in 2001 verloor weens die verkoop van onwettige sigarette.
Die smokkelhandel raak só enorm dat die SA Tabakinstituut 'n beampte tydelik aan die SAID afgestaan het vir nouer samewerking met die bekamping daarvan.
"Die Regering is onder druk om die belasting op tabakprodukte verder te verhoog, maar die bedryf wil hom maan om versigtig te wees en eerder saam met die bedryf probeer om onwettige tabakhandel aan bande te lê," sê mnr. Francois van der Merwe, hoof uitvoerende beampte van die Tabakinstituut.
Hy sê in dié verband kan na Kanada verwys word waar die aksynsbelasting op sigarette só hoog gemaak is dat mense al hoe meer onwettige produkte gekoop het en die staat soveel inkomste verloor het dat die belasting uiteindelik weer verlaag is. Engeland verloor sowat R455 biljoen per jaar aan inkomste weens belasting op sigarette.
"Die Regering bluf homself as hy dink 'n hoë belasting op sigarette laat mense minder rook. Die gebruiksyfer van wettige produkte neem wel af, maar mense rook net meer onwettige produkte wat minder kos. Dit hou 'n groter veiligheidrisiko in omdat dié produkte nie aan die streng gehaltevereistes van die wettige produk voldoen nie," sê hy.
Hoewel dit moeilik is om syfers vas te stel omdat dit onwettige bedrywighede behels, is volgens die SAID se berekening 7,4 miljoen pakkies sigarette onwettig in 2001 verkoop waarop geen belasting of BTW aan die staat betaal is nie.
Sowat 50 % (R5,44) van die prys van 'n wettige pakkie 20-sigarette beland in die staatskas.
'n Woordvoerder van die SAID het aan Landbouweekblad gesê die meeste sigarette in die smokkelhandel kom uit Zimbabwe, terwyl vervalste produkte meestal uit Sjina kom, veral namaaksels van Peter Stuyvesant-produkte.
Dié produkte voldoen nie aan Suid-Afrikaanse standaarde nie en bevat ook geen gesondheidwaarskuwings nie.
Die onwettige mark beslaan na raming sowat 148 miljoen sigarette per jaar.
"Besteebare inkomste speel 'n groot rol in die verbruik van tabakprodukte. In Suid-Afrika neem die verbruik van wettige produkte af met 2 % tot 3 % per jaar en in die proses is almal verloorders -- behalwe die onwettige handelaar," sê mnr. Van der Merwe.
Volgens hom is sigarette wat minder as R7 kos verdag en word die publiek se hulp gevra om sulke gevalle aan te meld.
21 Maart 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24