JAN CILLIERS
Agri SA meen die staat het nie sy grondwetlike verantwoordelikheid teenoor die grondeienaar in die Modderklip-geskil, sowel as die mense wat 'n dringende behoefte aan grond het, nagekom nie, sê mnr. Lourie Bosman, voorsitter van Agri SA se grondsakekomitee. Dié geskil word in die Hooggeregshof in Pretoria aangehoor.
Mnr. Abraham Duvenage van die Modderklip-boerdery naby Benoni het in Oktober 2000 'n hofbevel vir die afsetting van honderde plakkers van 'n deel van sy plaas verkry. Die balju wou egter nie die plakkers verwyder nie, tensy mnr. Duvenage R1,8 miljoen betaal sodat 'n private veiligheidsonderneming gehuur kon word om die plakkers af te sit. Mnr. Duvenage vra nou 'n bevel dat die staat die koste moet betaal. Sedertdien het die aantal plakkers tot 'n beraamde 40 000 gestyg.
"Die staat behoort in geval van onregmatige grondbesetting die verantwoordelikheid op hom te neem om hofbevele oor die hantering van die saak uit te voer. Dit is onhoudbaar dat die staat in hierdie saak enige verantwoordelikheid vir die uitvoering van 'n hofbevel ontken. Dit bring mee dat die koste van die uitvoering van maatskaplike wetgewing op 'n private eienaar afgewentel word."
Adv. Gerrit Grobler, wat optree namens Agri SA wat tot die saak toegetree het, het in die hof gesê die Grondwet plaas 'n verpligting op die staat om private eiendomsreg te beskerm en toegang tot grond en behuising vir sy inwoners te verseker.
Hy het gesê die uitvoerende gesag het ingevolge art. 165(4) van die Grondwet 'n verpligting om die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid, toeganklikheid en doeltreffendheid van die howe te verseker. In die Modderklip-geval het die staat sy verantwoordelikheid ontken om die howe by te staan in die uitvoering van die hofbevel.
Adv. Denzil Potgieter, wat die staat se regspan lei, het op sy beurt gesê die Regering steun geensins grondbesettings nie en enige ooreenkoms met grondbesettings soos in Zimbabwe, is ongegrond.
Hy het aangevoer dat die staat sy plig nagekom het toe 'n hofbevel uitgereik is vir die afsetting van die plakkers op mnr. Duvenage se plaas en die balju opdrag gegee is om die hofbevel uit te voer. Dit is ook nie die plig van die polisie om die onwettige plakkers van grond af te sit nie.
Adv. Potgieter het na die Bredell-saak verwys toe die Regering onwettige plakkers hardhandig van grond afgesit het wat gedeeltelik aan die staat behoort. Hy het gesê die Regering het toe sy deel van die koste aan die balju betaal om 'n private veiligheidsfirma te huur om die plakkers af te sit.
Die saak duur voort.15 November 200