Akkurate, tydige en deurlopende inligting rakende braaikuikens en verpakkingsmateriaal vir eiers sal beskikbaar wees vir rolspelers in die pluimveebedryf wanneer nuwe voorgestelde statutêre maatreëls ingestel word.
Die SA Pluimveevereniging (SAPV) het by die Minister van Landbou aansoek gedoen vir die instelling van statutêre maatreëls vir braaikuikens en verskaffers van verpakkingsmateriaal vir eiers. Die Minister van Landbou en Grondsake, me. Lulu Xingwana, het op 4 Maart daarvan kennis geneem dat die voorgestelde maatreëls in ooreenstemming met die wet vir die bemarking van landbouprodukte van 1996 is.
Die Minister het die aansoek na die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLR) gestuur vir verdere ondersoek. Die doel van die voorgestelde wetlike maatreëls is om telers van vroulike ouer braaikuikens en verskaffers van verpakkingsmateriaal vir eiers te noop om by die SAVP te registreer en om opgawes en rekords in te dien.
Die voorgestelde heffings sal vir swart ekonomiese bemagtiging, verbruikersopvoeding en gehaltestandaarde, navorsing en ontwikkeling en kommunikasie en bedryfskakeling aangewend word. Indien die maatreëls goedgekeur word sal dit vir vier jaar geldig wees.
Die voorgestelde heffings vir vroulike ouer braaikuikens wat vir kommersiële doeleindes geteel is, is R1,32 van die datum van publikasie tot Desember 2010, R1,45 van Januarie tot Desember 2011, R1,60 van Januarie tot Desember 2012 en R1,76 van Januarie tot Desember 2013. Die voorgestelde heffingsbedrag per dosyn verpakte eiers verkoop vanaf die datum van publikasie tot Desember 2010 is 2,23 sent. Vanaf Januarie tot Desember 2011 is dit 2,45 sent, van Januarie tot Desember 2012 is 2,70 sent en van Januarie tot Desember 2013 is 2,97 sent.
Die NLBR versoek dat belanghebbendes in die pluimveebedryf enige kommentaar rakende die voorgestelde heffings op skrif voor 6 April na 08662 64768 faks of na schalk@namc.co.za e-pos.
16 Maart 2009