THEUNS BOTHA
Die verstewiging van die rand het die sybokhaarmark weer 'n knou toegedien en pryse het op die derde agtereenvolgende veiling laer geneig. Op die laaste veiling van die winterseisoen in Port Elizabeth het pryse verlede week met gemiddeld 4,5 % tot 6,5 % teruggesak. Slegs 82 % van die aanbod is van die hand gesit.
Nieteenstaande die jongste daling, was die gemiddelde prys van R48,43/kg vir die hele seisoen sowat 30 % hoër as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Volgens CMW behoort die beperkte aanbod en verdere daling in produksie wat vir die somerseisoen voorsien word, tot 'n verstewiging in pryse gedurende 2003 by te dra.
Die gemiddelde pryse vir die belangrikste kategorieë in die afgelope seisoen, vergeleke met 'n jaar gelede, was: Kleinbokkiehaar R93,28/kg (R69,63/kg); jongbokhaar R54,60 (R43,58); fyn grootbokhaar R36,35/kg (R31,47/kg) en sterk grootbokhaar R31,92/kg (R27,31/kg). Altesame 1,27 miljoen kg sybokhaar (87 % van die aanbod) is die afgelope seisoen van die hand gesit om die gemiddelde skeerselrealisasie op net meer as R61 miljoen te staan te bring. Die 2003 somerseisoen open op 18 Februarie volgende jaar.13 Desember 2002