|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 21:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Suid-Afrika sal nie die pad van Zimbabwe loop in sy grondhervormingsproses nie, het mnr. Herman Bailey, burgemeester van Drakenstein (Paarl) op die prysuitdelingsfunksie van die Bergrivier Tafeldruifprodusente-vereniging (BTV) se blokkompetisie naby Piketberg gesê.
Mnr. Bailey het gesê daar bestaan geen beleid in Suid-Afrika wat vir die "wegneming" van grond van wettige eienaars voorsiening maak nie. Al maniere hoe grond in Suid-Afrika van eienaarskap kan verwissel, is deur die verkoop daarvan, restitusie waar grond onregmatig bekom is, redustribusie en deur die Grondhervormingswet.
'n Wetlike raamwerk is gesetel waarin al die aspekte van grondherverdeling vervat is en boere kan gerus wees dat 'n tweede Zimbabwe nooit hier sal plaasvind nie.
Daar is egter lesse te leer uit dit wat nou in daardie land gebeur, soos dat ordelike herverdeling van grond die enigste manier is om dit suksesvol te doen.
Hy het gesê heelwat bemagtigingsprojekte - wat almal met goeie bedoelings van stapel gestuur word - misluk omdat dit swak georganiseerd is en weens swak kommunikasie onder die betrokke groepe. Sulke kommunikasie skep wantroue en dus is goeie kommunikasie 'n sleutelaspek vir die sukses van sulke projekte.
Mnr. Bailey het gesê die grootste uitdaging is om grondhervorming in Suid-Afrika só te bestuur dat volhoubare ontwikkeling daardeur bevorder word. "Lei werkers op sodat hulle in staat is om vir hulself 'n finansiële basis te skep.
"Die geheim is nie om soveel moontlik nuwe, opkomende boere in die Wes-Kaap te vestig nie, maar om hulle suksesvol te vestig. Want as hulle nie suksesvol gevestig word nie, kan die poging maar laat vaar word," het mnr. Bailey gesê.
Die BTV se blokkompetisie is die 15de keer aangebied. Die wenner is mnr. Koot Nel van Môrester Boerdery, Piketberg, met 'n blok Alphonse-druiwe. Tweede is mnr. Stephan Viljoen van Zwartfontein Boerdery, Wellington, met 'n blok Sunred Seedless en derde is mnr. Fielies du Toit van Olyfenbos, Paarl, ook met 'n blok Sunred Seedless. Die blokkompetisie vir jong mense is gewen deur mnr. Steph Stefaan van Companjesdrif, Piketberg. Altesame 17 inskrywings is vanjaar ontvang.
7 Feb. 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24