|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 21:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die suikerbedryf het homself verbind tot die Regering se mikpunt dat 30 % van landbougrond in private besit teen 2015 in swart hande moet wees.
Mnr. Rodger Stewart, nuwe voorsitter van die Suid-Afrikaanse Suikervereniging, het op die organisasie se jaarvergadering gesê vir die suikerbedryf beteken dit dat 'n verdere 78 000 ha in private besit in die volgende 12 jaar oorgedra moet word.
Hy het gesê in die laaste 10 jaar is sowat 18 000 ha oorgedra aan swart eienaars.
Mnr. Bruce Dunlop, uittredende voorsitter, het gesê terwyl die landbou in die ontwikkelde wêreld as 'n sake-onderneming gesien word, is dit in ontwikkelende lande 'n kwessie van lewe en dood. Die suikerbedryf in Suid-Afrika sluit albei dié sieninge in.
"As 'n wêreldleier in ondernemingsgees en doeltreffendheid, slaag die bedryf voortdurend daarin om produksiekoste te verlaag en internasionale mededingendheid te verbeter."
Mnr. Dunlop sê almal is dit eens dat die afgelope seisoen die beste nog was met die die rekord-opbrengs van meer as 2,75 miljoen ton suiker. "Die welslae van dié bedryf kan nie net aan gunstige groeitoestande toegeskryf word nie, maar ook die goeie verhouding tussen kwekers en meulenaars, wat van die beste riet-tot-suikerverhoudings tot nog toe verseker het." 'n Gunstige wisselkoers het uitvoer bevoordeel.
Hy sê hy voel egter minder geesdriftig oor die huidige seisoen. Groeitoestande is ongunstig en die jongste voorspelling dui op 'n opbrengs van 2,4 miljoen ton suiker in 2003/04. Dit is 355 000 ton minder as die vorige seisoen.
"Hoewel die prentjie steeds nie noodwendig té donker lyk nie, is daar rede tot kommer. Met 'n sterker rand en nie veel van 'n verbetering in die internasionale prys van suiker nie, sal die gordels ingekort moet word as die bedryf sy koste-doeltreffendheid wil behou."
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24