|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 21:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die SA Proteaprodusente en -uitvoerdersvereniging (Sappex) sê die bewering dat boere doelbewus suikerbekkies vergiftig om skade aan proteas te voorkom, kan die bedryf ernstig benadeel as dit tot verbruikersweerstand lei. Dit beklemtoon opnuut die belangrikheid van omgewingsvriendelike boerderypraktyke.
Me. Maryke Middelmann, voorsitter van Sappex, sê dié vereniging het sy lede se hulp ingeroep om vas te stel of enige lede, of boere wat nié lede is nie, hulle hieraan skuldig maak. Sappex wil vasstel of sy lede suikerbekkies as 'n probleem beskou en watter metodes hulle volg om die probleem te bestry -- as dit wel die geval is. Elke lid wat nog nie self inligting verskaf het nie, word gekontak.
Die Raad van Toesig op die Uitvoer van Bederfbare Produkte (PPECB) ondersoek ook die bewering in die artikel in 'n voëllewepublikasie dat hy van sulke praktyke sou weet.
Me. Middelmann sê die vereniging sal 'n omvattende verslag saamstel wat aan belanghebbendes soos Kaapse Natuurbewaring, die Gifstofwerkgroep van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe en BirdLife South Africa gestuur sal word.
Sy sê alle boere met wie Sappex al gepraat het, het die doodmaak van suikerbekkies veroordeel. Geen bewyse van só 'n praktyk is nog gevind nie en boere is ook nie bewus van iemand wat dit doen nie.
Diegene wat wel probleme ondervind, beperk skade deur byvoorbeeld sakkies om die blomme te bind of die boonste blomme aan die bos vir die voëls se gebruik te los.
19 September 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24