Theuns Botha
CMW se welslae die afgelope twee jaar met elektroniese veeverhandeling op die internet het hom laat besluit om 'n soortgelyke stelsel vir sybokhaar te oorweeg.
Dr. Jan van der Westhuysen, besturende direkteur van CMW, sê dit hou heelwat voordele in vir die plaaslike mark. Afgesien daarvan, het die afname in sybokhaarproduksie in Texas en ander produserende lande soos Turkye, meegebring dat kopers wat uitsluitlik daardie markte benut het, nou op die Suid-Afrikaanse mark aangewese is.
"Om die maksimum vraag op die plaaslike mark te skep en 'n meer objektiewe prysvormingsmeganisme te verseker, het CMW 'n elektroniese veilingstelsel ontwikkel wat geakkrediteerde kopers op enige plek in die wêreld in staat sal stel om op die aanbod te bie."
Hy sê die ontwikkeling van die stelsel word deur Comp RSA gedoen en die implementering daarvan sal in samewerking met die sybokhaarkopers gedoen word.
Volgens hom is die enigste verskil tussen die tradisionele veiling en internetveiling dat kopers vanuit hulle kantore op enige plek in die wêreld vir 'n betrokke lot sal kan bie deur hul prys elektronies te stuur, eerder as om hardop teen mekaar te bie.
"'n Verskeidenheid hulpmiddels sal in die stelsel ingebou word wat 'n elektroniese aanbod, reserwepryse en ander berekenings moontlik maak. Die veilings sal op 'n vasgestelde tyd begin en eindig."
Dr. Van der Westhuizen sê hoewel die beoogde stelsel nie noodwendig 'n groter vraag vir sybokhaar sal skep nie, dit 'n meer verteenwoordigende mededinging vir die beskikbare aanbod behoort te verseker. Volgens hom sou die stelsel vroeër dié seisoen geïmplementeer gewees het, maar sal om strategiese redes redes eers volgende jaar in bedryf gestel word.
Hy sê die stelsel wat ontwikkel is, maak dit moontlik om 'n verskeidenheid van ander bedryfsitems op dieselfde manier te bemark.
15 November 2002