Theuns Botha
Sybokhaarpryse het die derde agtereenvolgende veilingsweek verbeter - nieteenstaande die verstewiging van die rand. Dit is veral jongbokhaar wat geskitter het en met 8,5 % gestyg het. Die prys van kleinbokkiehaar het met 4 % verbeter.
Mnr. Frans Loots, hoofbestuurder van Sybokhaar Suid-Afrika, sê die meeste sybokhaar vervaardigers het hul bestellings vir die 2003-verkoopseisoen afgehandel. "Die vooruitverkope was bevredigend en die vervaardigers sal nou die bokhaar moet verwerk om die bestellings uit te voer. Dit behoort te lei tot 'n verdere toename in vraag na die grondstof."
Gemiddelde pryse in kilogram op verlede week se veiling was soos volg (pryse van die ooreenstemmende veiling 'n jaar gelede is tussen hakies):
Kleinbokkiehaar R98,59/kg (R58,74kg); jongbokhaar R65,69/kg (R38,81kg); fyn grootbokhaar R38,52/kg (R28,16/kg) en sterk grootbokhaar; R34,75/kg (R26,12/kg). Die gemiddelde prys van R53,67/kg is amper R20/kg hoër as 'n jaar gelede.
Die omset op die veiling was R6,8 miljoen en 96,3 % van die aanbod van 131 663 kg haar is verkoop. Die volgende veiling word op 19 November gehou.
15 November 2002