|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 21:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die Nampo-oesdag van 2009 gaan 'n besige gedoente wees met feesvieringe en nuwe uitdagings. Hierdie jaar word besoekers 'n blik op toekomstige tegnologie gegee.
Die Noord-Wes Koöperasie, Senwes en Suidwes, al drie landboubesighede wat gereeld by Nampo uitstal, vier hierdie jaar hul 100ste bestaansjaar. Hulle het besluit om Nampo as 'n groot deel van die vieringe uit te maak. Die Boerepatentekompetisie vier ook dié jaar 'n 21ste verbintenisjaar met Omnia.
Mnr. Jub Jubelius, voorsitter van die Nampo-oesdagkomitee, meen die uitdaging is om besoekers voldoende waarde vir hul geld te bied. "Ons mikpunt is om elke jaar voort te bou op 'n wenresep," het hy gesê. Die Oesdag is vanjaar van 12 tot 15 Mei.
Soos verlede jaar sal statiese demonstrasies weer plaasvind, maar 'n nuwe konsep gaan deur meganisasie-uitstallers ingespan word. Hoewel daar steeds demonstrasies in die lande gedoen gaan word, het van die uitstallers besluit om met behulp van rekenaartegnologie, elektroniese uitstallings en eenderse ervarings van dit waartoe die ysters en toerusting in staat is, hul demonstrasies te wys.
Daar gaan die jaar weer die gewilde Boerepatentekompetisie, waartydens boere hul nuwe patente kan bekend stel, wees. Die veevertoning wat beeste, skape, bokke, perde en varke insluit, sal ook daar wees. Elke dag om 11:00 en 15:00 gaan die 4x4-voertuigdemonstrasies plaasvind. Nuwe mode, skoonheid en styl sal tydens die damesprogram en daaglikse modeparade te sien wees.
Lede van Graan SA kry ekslusiewe ledeparkering en toegang tot die ledesaal. Toegangsgelde is R60 per persoon vir die Dinsdag, Donderdag en Vrydag. Maar Woensdag, 13 Mei, is die toegangsgeld R70 per persoon. Toegangskaartjies is vooraf beskikbaar by uitgesoekte Engen-depots en Senwes Village-winkels.
Vir meer inligting, besoek die Nampo-Oesdag se webtuiste by: www.nampo.co.za.
6 April 2009
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24