Hoewel prys 'n uiters belangrike rol in enige sakeonderneming het, is dit nie die enigste faktor wat winsgewendheid bepaal nie, het mnr. Bertus de Jongh, hoof uitvoerende beampte van Melk SA, op die SA Grootkuddekonferensie in KwaZulu-Natal gesê.
Mnr. De Jongh het daarop gewys dat ongesonde debatte in die bedryf oor die meriete van produsentepryse in die verlede gewoonlik die bedryf benadeel het.
Hy het gesê in 'n vrye mark is dit 'n gegewe dat die vraag en aanbod die prys bepaal. Weens bepaalde tekortkomings in die huidige markstruktuur word beweer dat die prys van melk deur die suiwelbedryf gemanipuleer word.
Hy meen dat as die bedryf 'n meganisme, soos 'n termynprys, kan ontwikkel wat 'n vroeë waarkuwing kan gee oor die rigting waarin die produsenteprys gaan beweeg, behoort dit die geskil tussen die sekondêre en primêre bedryf in 'n groot mate by te lê.
"Die stigting van Melk Suid-Afrika einde verlede jaar was 'n dapper stap om hande te vat in 'n poging om saam te werk om die melkbedryf as 'n geheel te bevoordeel." Hy het gesê die Melkprodusente-organisasie (MPO) het wel as gevolg hiervan 'n paar lede verloor, maar dat dit 'n stap was "om te verseker dat 'n daadwerklike verandering in 'n andersins stagnante bedryf bewerkstellig word".
"Die destydse Suid-Afrikaanse Melkfederasie was nie in staat om die suiwelinisiatief uit te voer nie, omdat die organisasie nie personeel, infrastruktuur of geld gehad het nie. Melk SA kan hierde uitdagings oorkom en die eerste aanduidings daarvan is reeds daar."
Mnr. De Jongh het verwys na die dramatiese afname in melkverbruik die afgelope dekade en gesê een van die redes hievoor is die ontwikkeling van 'n nuwe middelklas in Suid-Afrika. "Dit is duidelik dat die mense in dié klas nie baie melk gebruik nie. Suid-Afrika het 45 miljoen mense en as die bedryf hulle kan oortuig om melk in hul tee en koffie te drink, sal die verbruik van melk verdubbel." Hy glo nie dit kan te moeilik wees nie.
Internasionaal het verskeie lande die afgelope paar jaar die generiese opvoeding van verbruikers ná deregulering beëindig. In alle gevalle het dit tot 'n afname in die verbruik van melk gelei. Hulle oorweeg dit nou ernstig om generiese reklame van melk voort te sit. Engeland en Amerika het reeds daarmee begin. In Amerika het dié land se melkbedryf R2 miljard vir dié doel bewillig en die eerste verslae dui op 'n verbetering in die verbruik van melkprodukte.
Van dié resulate kan ook in Suid-Afrika behaal word, het mnr. De Jongh gesê. Hy meen dat 'n minimum begroting van R10 miljoen per jaar nodig is om minimale doelwitte te bereik. Melk SA is hard besig om die geld te probeer bekom, het hy bygevoeg.
14 Feb. 2003