Die Minister van Finansies behoort geluk gewens te word met 'n goeie, gebalanseerde Begroting, gegewe die huidige ekonomiese toestande, sê mnr. Bully Botma, voorsitter van Graan SA.
Hy sê graanboere is dankbaar dat meer geld begroot is vir misdaadbekamping en die vervolging van misdadigers, droogteverligting en grondhervorming.
"Graanboere het waardering daarvoor dat die minister die dieselkorting in vanjaar se Begroting aangepas het met die totale verhoging in die belasting op diesel. Die afgelope twee jaar is die dieselkorting vir die landbou met minder as 'n derde van die verhoogde belasting aangepas. Die totale dieselkorting styg gevolglik van 48,4 sent per liter tot 63,4 sent per liter, wat 'n bykomende besparing van nagenoeg R50 miljoen elke seisoen vir graanboere kan beteken.
"Graan SA sal egter voortgaan om die oorblywende belasting op diesel, wat sowat 55 sent beloop, ook afgeskaf te kry," sê mnr. Botma.
Volgens Agri SA se uitvoerende direkteur, mnr. Hans van der Merwe, bevestig Manuel se begrotingstoespraak die Regering se verbintenis tot die bespoediging van grondhervorming en groter ondersteuning aan nuwe toetreders tot die landbou.
Agri SA hoop die bykomende toekenning van R700 miljoen vir restitusie en die Regering se program vir die Herverdeling van Grond vir Landbou-ontwikkeling (LRAD) sal die knelpunte wat vordering met hierdie programme vertraag het, uit die weg ruim.
Van der Merwe sê die R750 miljoen wat oor die volgende drie jaar vir die ondersteuning van nuwe toetreders tot die landbou bewillig is, is ook welkom.
Agri SA, sowel as die TLU SA, verwelkom ook die verhoogde dieselrabat.
Die National African Farmers' Union se voorsitter, mnr. Motsepe Matlala, sê hy is verheug oor die bykomende geld vir die ondersteuning van nuwe boere. Dit lyk of die Regering nou begin besef voor watter uitdagings die Departement van Landbou en die Departement van Grondsake staan.
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA, meen die Begroting doen nie genoeg vir werkskepping en ekonomiese groei nie.
Hy dink die verhoogde toedeling vir grondherverdeling kan, as dit volgens gesonde ekonomiese beginsels gedoen word, " 'n bydrae maak om 'n baie omstrede saak in 'n rigting te stuur. Die kommer is egter wat die eindresultaat gaan wees uit die oogpunt van voedselsekerheid."
27 Februarie 2004