Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Tina wil boere vestig

 

Kommersiële boere moet aan hul houding en verhoudings werk as hulle wil hê die Regering moet hulle met groter welwillendheid behandel, het me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, onlangs op Somerset-Wes gesê.

In haar toespraak op Agri SA se bedryfs- en boerontwikkelingskonferensie verlede maand het sy dit duidelik gestel dat sy vir boere sal werk as hulle van hul kant af toegewings maak. Sy het ook gepleit vir groter samehorigheid en dat kommersiële boere hulle nie net vir hul eie saak moet beywer nie.

Eskom benadeel ontwikkeling
“Praat as Suid-Afrikaners, nie as wit kommersiële boere nie. En as julle met politici praat oor hoe klein boere se aandeel aan die prys van voedselprodukte is, sê ook dat daar baie arm mense is wat nie voedsel kan bekostig nie.”

Met Eskom se hoër elektrisiteitstariewe op pad het die minister gesê sy sal seker maak dat die uitdaging van hoë tariewe gepak word aangesien sy meen die verhoging van 25% per jaar oor drie jaar gaan boere op hul knieë dwing en produksie knou.

 “Ons benadeel landelike ontwikkeling en uitvoermededingendheid, en selfs meer werkers as die 100 000 wat verlede jaar hul werk in die landbou verloor het, kan sonder werk sit.”

Misdaad kommerwekkend
Joemat-Pettersson het haar kommer uitgespreek oor geweld en misdaad op plase; nie net moorde op wit en swart boere nie, maar ook geweld teenoor plaaswerkers. Sy het gesê haar prestasie word gemeet aan die getal swart bestaansboere, kleinboere en kommersiële boere wat sy in haar termyn van vyf jaar vestig.

As dit daarop aankom, sal sy dus alle geld wat aan haar departement toegewys word, bestee om van hierdie boere ’n sukses te maak en haar mikpunte te haal. Dog as wit kommersiële boere haar help, sal sy die geld ook tot húl voordeel aanwend.

Soos vorige kere, het sy gesê dat die geleenthede wat nou vir wit kommersiële boere bestaan om in ander Afrikalande te gaan boer, nie is omdat wit boere weggejaag word of weghardloop nie, maar ’n logiese oplossing vir die grondkwessie in Suid-Afrika is.

Sy het gewaarsku dat boere nie daarheen moet gaan as daar nie ’n ooreenkoms bestaan tussen Suid-Afrika en die land waarheen hulle gaan nie.

Lees ook:

Soedan soek SA boere

Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 12 Maart 2010.

10 Maart 2010

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.