|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 21:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die TLU SA is woedend oor beweringe van 'n staatsgetuie in die opspraakwekkende hoogverraadsaak in Pretoria waardeur dié organisasie geïnkrimineer word as sou hy betrokke wees by beplanning van Boeremag-aksies.
Dié beweringe is ten sterkse ontken deur mnr. Paul van der Walt, voorsitter van die TLU SA.
"Die TLU SA word deur die beweringe gediskrediteer en ons gaan dit beslis nie daar laat nie," sê hy.
Regsmening is reeds ingewin en daarvolgens het die organisasie 'n sterk saak.
Mnr. Van der Walt sê die organisasie glo in mnr. Bennie van Zyl, uitvoerende hoofbestuurder, se onskuld en sal hom beskerm sover dit binne sy vermoë is. Mnr. Van Zyl se naam het in die getuienis na vore gekom.
Mnr. Van Zyl het by navraag aan Landbouweekblad gesê nie hy of die TLU SA is hoegenaamd betrokke by enige Boeremag-aksies nie.
"Geen individu binne die organisasie het die bevoegdheid om die TLU SA te bind aan enige besluitneming of aksies alvorens 'n dinamiese proses deur sterk beleidskanale gevolg is nie."
Mnr. Van der Walt sê die beweringe is in getuienis gemaak in 'n hofsaak wat nog sy loop moet neem, "maar dat ons gaan optree na afloop van die saak, is seker."
"Die TLU SA is 'n landbougedrewe nasionale a-politiese organisasie met die taak om die volhoubare voortbestaan van die kommersiële boer in Suid-Afrika te verseker en sy lede se belange binne die wet te beskerm.
"Ons distansiëer onsself van die aantygings en bevestig dat die TLU SA in geen stadium enige besluit geneem het om by enige ongrondwetlike aktiwiteite betrokke te raak nie en ons bevraagteken die motiewe agter die bewering," sê mnr. Van der Walt.
14 November 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24