TLU SA vry na Agri-lede

 

Die TLU SA wil Agri Mpumalanga (wat in likwidasie geplaas is) se lede afvry.

Agri Mpumalanga is onder vrywillige likwidasie geplaas sodat lede wat by ’n mislukte kunsmistransaksie betrokke was, se skade bekamp kan word.

Terwyl Agri SA se provinsiale verteenwoordigers reeds aan ’n alternatiewe struktuur tot Agri Mpumalanga beplan, het die TLU SA se Oos-streek boere genooi om by hulle aan te sluit.

“TLU SA se Oos-streek is oor dekades gevestig, is sterk en gesond en in staat om in al sy lede se behoeftes te voorsien. Ons deur is oop vir boere wat hul kan vereenselwig met die TLU SA se missie – om kommersiële boere volhoubaar en veilig op hul grond te hou en sodoende ’n bydrae tot voedselsekerheid te lewer,” sê mnr. Henry Geldenhuys, streekvoorsitter van die TLU SA se Oos-streek.

Geldenhuys sê dit is betreurenswaardig dat Agri Mpumalanga onder omstandighede onder vrywillige likwidasie geplaas is. “Dit laat ‘n leemte vir dié boere wat dié unie as ‘n tuiste gesien het om hulle belange te hanteer.”

Daar is ’n al groter vraag om eendrag binne die georganiseerde landbou en nóú is dalk die ideale geleentheid om te kyk of daar nie ’n tuiste binne TLU SA vir dié boere gevind kan word, voor ’n nuwe struktuur opgerig word. “Voor ‘n nuwe struktuur teen hoë koste en met baie moeite opgerig word, is dit dalk ‘n beter idee om te kyk of samewerking nie nou ‘n opsie is nie. Die TLU SA sal sodanige gesprek verwelkom.”

27 Julie 2010
 

5
 
 

Kommentaar

Susan Botes

Dom Boer01, ek verstaan nie. Hoe kom dit nie neer op 'n vryery nie?

Susan
(susan.botes@landbou.com)

 

Dom Boer01 

Die opskrif van hierdie berig is misleidend. Wat TLU SA duidelik doen, is om die boere 'n heenkome in 'n stewige, standvastige, boervriendelike landbou-organisasie bied.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.