|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 21:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Nog ‘n boer is dié week in die hospitaal opgeneem weens ernstige beserings wat hy tydens ‘n plaasaanval opgedoen het.
Mnr. Cornelius Cronje, ‘n 83-jarige boer van die plaas Doornlaagte naby Welkom, is in ‘n plaaslike hospitaal behandel na hy Woensdag tydens ‘n plaasaanval met ‘n stomp voorwerp oor die kop geslaan is.
In die tweede voorval is ‘n 40-jarige boer van Senekal in ‘n plaaslike hospitaal opgeneem na hy gisteraand tydens ‘n plaasaanval met ‘n stomp voorwerp oor sy kop en arms geslaan is. Kap. Phumelelo Dlamini, ‘n woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), sê die boer is gisteraand omstreeks 22:00 op die plaas Winia deur twee mans in sy huis aangeval.
“Ons is tans op soek na die twee mans en hoop om hulle vinnig aan te keer,” sê Dlamini.
Vrou van Ficksburg ook aangeval
Intussen is ‘n 60-jarige boervrou op die plaas Lion’s Rest naby Ficksburg verlede week tydens ‘n aanval met ‘n klip in die gesig gegooi. Volgens Dlamini is sy ook in ‘n plaaslike hospitaal opgeneem weens haar beserings.
“Sy het kort na die voorval die Polisie gebel. Die man is op die toneel aangekeer. Hy was steeds in die omgewing toe die Polisie daar opgedaag het. Hy is van Lesotho,” sê Dlamini.
Landbou.com se petisie vorder
Landbou.com se petisie - Stop plaasmoorde - is intussen al 1 174 handtekeninge sterk. Enige iemand wat die petisie wil onderteken, kan hier klik.
Een van die jongste inskrywings, deur me. Tertia Visser, lui: “Plaasmoorde is 'n skande vir ons demokrasie.”
Mnr. Leon Pottas sê: “Hoe lank gaan die plaasmoorde nog aanhou en wie gaan oorbly as dit nie stop nie? Verseker sal daar moet stappe kom om dit te stuit. Die Regering doen niks daaraan nie, asof dit maar reg is.”
Lees nog kommentaar van diegene wat die petisie al onderteken het.
26 Februarie 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)