Die drie grootste vakbonde, met lede by die Nasionale Landbounavorsingsraad (LNR), het 'n dispuut met die bestuur van die LNR verklaar en beoog om ná 18 Junie 'n beskermende staking te hou.
Na verneem word, probeer die vakbonde sedert begin vanjaar om deur 'n nasionale onderhandelingsforum wat spesiaal vir dié doel geskep is, met die LNR se hoofbestuur oor vanjaar se salarisverhogings te onderhandel, maar 'n vergadering word telkens op kort kennisgewing afgestel omdat dr. Nthoana Tau-Mzamane, president en hoof uitvoerende beampte van die LNR, dit nie kan bywoon nie.
'n Woordvoerder van die grootste vakbond by die LNR, mnr. Chris Kaempffer, visevoorsitter van die Navorsingsraadvakvereniging wat meer as 50 % van alle werkers by die LNR verteenwoordig, het bevestig dat 'n dispuut met die hoofbestuur van die LNR op 18 Mei by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie geregistreer is. Die drie groot vakbonde is voornemens om ná 18 Junie 'n beskermende staking te hou as nie met die hoofbestuur oor salarisaanpassings ooreengekom word nie.
Werkers by die LNR voer aan dat hul salarisse 25 % minder is as die gemiddelde salarisse van die onderste 25 % van salarisse in die private sektor. Verlede jaar is met die hoofbestuur ooreengekom om hierdie saak oor die volgende vyf jaar reg te stel teen 'n koste van R25 miljoen vir die LNR. Die eerste aanpassing was verlede jaar in April toe werkers 'n verhoging van 8 % in hul salarisse gekry het. Daarna moes hulle elke jaar in April 'n aanpassing kry. Vanjaar het hulle dit nie gekry nie.