“Ons weet nie alle boere is rassiste nie en daar is baie voorbeelde van goeie samewerking tussen plaaswerkers en boere. Die uitdaging is egter om alle plase in Suid-Afrika te transformeer,” sê mnr. Zwelinzima Vavi, die sekretaris-generaal van Cosatu.
Vavi is Vrydag (30 Julie) met groot opgewondenheid en toejuiging deur plaaswerkers by die nasionale plaaswerkersberaad in Somerset-Wes verwelkom. Sowat 1 500 afgevaardigdes het die beraad bygewoon.
Me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, sê provinsiale berade is in al die provinsies aangebied en die totale begroting vir al die berade was R12 miljoen.
“Semi-slawerny” vir baie plaaswerkers
Volgens Vavi is baie plaaswerkers steeds die slagoffers van “semi-slawerny” op Suid-Afrikaanse plase. “Regte vir plaaswerkers geld op baie plase nie. En dit is ‘n gewoonte op die plase dat sou die werkers iets oor hulle regte opmerk dat daar vir hulle gesê sal word om dit met oud-pres. Nelson Mandela, of oud-pres. Thabo Mbeki of nou pres. Jacob Zuma te gaan bespreek.” Hy noem arbeidsverhoudinge op baie plase in die land ‘n klad op die land se naam.
Plaaswerkers moet vakbondlede wees
Vavi sê volgens die jongste statistiek is een uit elke 19 plaaswerkers in die land lid van ‘n vakbond. “Baie van hulle word nie toegelaat om aan ‘n vakbond te behoort nie, maar ons sê om die arbeidsomgewing op plase te verbeter moet plaaswerkers aan ‘n vakbond behoort.”
Hy het wel opgemerk dat dié mense wat nie hulle werk doen nie, nie simpatie van die vakbond moet verwag nie. “Ons het geen simpatie met enige iemand wat nie sy of haar werk doen nie, en hulle behoort afgedank te word!”
Ten opsigte van grondhervorming het Vavi opgemerk dat hy glo dat mense eers die grond waarop hulle woon suksesvol moet kan bewerk voordat groot hoeveelhede grond aan hulle oorhandig word. “Geen grondhervorming moet plaasvind as ons nie die grond waarop ons vandag bly, behoorlik kan bewerk nie.”
31 Julie 2010
Kommentaar
Vavi soek die honderdduisende plaaswerkerstemme om sy posisie (salaris) te verstewig en Zille (50;50 aandeleskema) soek volgende jaar (munisipale verkiesings) dieselfde stemme. Hulle voel weinig vir plaaswerkers. Aan Zille : Gee 50% van jou salaris en bates onmiddellik aan die land se plaaswerkers - dis wat jy van boere vra. In watter ander sektor word werkgewers verantwoordelik gehou vir die huisvesting van die werkers? Kyk in watter krotte woon die oorgrote meerderheid van die land se mense.
Oplossing: Die regeringslui moet minder van die belastingbetalersgeld steel en plaasdorpies bou waar dienste aan die inwoners gelewer word deur die staat.
Boere in die Noord Kaap sukkel hulle gedaan om mense te kry wat nog hoegenaamd belangstel in plaaswerk. Die mense wil nie meer werk nie, maar hulle dring aan op grond om self te boer! Mens boer nie op 'n horlosie nie. Diere word nie siek tussen 8 en 5 met middagete nie. Omtrent almal kry toelaes van die regering en hoef nie te werk nie. Hulle word betaal, met toelaes, om dronk rond te lê en dan die boere te bedreig en beledig. Dis die ondankbaarste mense deesdae! Hulle is ontevrede met alles en met niks tevrede nie. Kyk 'n slag na die ander kant van die saak. Die boere wat ek ken, gaan uit hulle pad om die lewe vir hulle werksmense beter te maak.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)