Veeboere kry dalk hulp met roofdiere

 

Die Regering het wakker geskrik oor Suid-Afrika se enorme roofdierprobleem en R140 miljoen bewillig vir ’n wetenskaplike ondersoek na en die bestryding van roofdiere.

Dit volg ná onderhandelings tussen die Probleemdier-bestuursforum (PBF) en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye. Daarmee is ’n groot slag geslaan vir veeboere en die land se ekonomie, aangesien sowat R1,4 miljard se kleinvee jaarliks deur roofdiere doodgemaak word.

Massiewe probleem
Die omvang van die probleem het die Regering duidelik verras. Mnr. Lardus van Zyl, voorsitter van die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) het op die Noord-Kaapse RPO-kongres gesê die parlementêre portefeuljekomitee vir landbou het met groot skok kennis geneem van die omvang van roofdierskade en die feit dat Suid-Afrika ’n netto invoerder van rooivleis sal bly indien iets daadwerkliks nie aan die saak gedoen word nie.

Hy vertrou dat die staat die ooreenkoms sal nakom, “want daar was redelike groot druk deur die komitee dat iets dringends aan die aangeleentheid gedoen word”.

Die grootste kommer is dat die departement volgens sy eie aanduidings nie die nodige kundigheid het om die werk te doen nie, aangesien optrede van dié aard ’n nuwigheid vir Suid-Afrika is, sê Van Zyl.

“Dit is te verstane aangesien dit sedert 1994 ’n nuwe uitdaging is. Ek dink die PBF sal ’n groot rol saam met kundiges, soos prof. H.O. de Waal van die navorsingseenheid vir groot roofdiere in Afrika (Alpru), moet speel om te help dat die geld reg aangewend word,” sê Van Zyl.

Tydsame proses
Volgens hom sal dit egter nog ’n geruime tyd duur voor die volle uitwerking van die beloofde bystand in die veebedryf gesien word. Dit is glo omdat die staat self nie weet hoe om die geld aan te wend nie. Dit sal onder meer beteken dat heelwat werk en verskeie modelle oorweeg moet word.

“Ek verwag nie om ’n verandering binne die volgende 18 maande in die status quo te sien nie. Die wetenskaplike opname sal na verwagting twee jaar duur voor voltooiing,” sê hy.

20 Junie 2011

3.4
 
 

Kommentaar

Nico Esterhuyse 

Roofdiere sal 'n probleem bly in SA. Dit is 'n gegewe. Drie faktore dra egter by tot die oorbevolking van roofdiere. 1. Boere met te veel groot plase wat die roofdierprobleem nie effektief kan bestuur nie. Te veel onbewoonde plase. Ek weet ek trap hier dalk op seer tone, maar waarheid kan nie weggeredeneer word nie. 2. Staatsgrond en wildplase waarop geen roofdierbestryding plaasvind nie. 'n Derde faktor is die onkundigheid van voetsoldate wat in werklikheid die roofdiere moet vang asook die onwilligheid van boere om sodanige jagters regtig te betaal wat hul werd is. As 'n jakalsjagter bv. 'n R1000 rand per jakkals betaal word, dink u nie hy sal alles in sy vermoê doen om daardie geld te maak nie. Terloops, dit is maar die verlies van een lam se geld, terwyl 'n jakkals tot dertig lammers in 'n seisoen kan vang. Indien so 'n subsidiëring verder van regeringskant kon kom dmv. insentiewe asook praktiese opleidingsprogramme kan meer werk geskep word in die platteland wat alreeds so ontvolk en arm is. Daar is nou 'n werkskeppingsprogram wat regtig iets sal beteken. Kan selfs die velle bry en verkoop.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.