Veediefstal is in die parlement aangekondig as ’n misdaad wat voorrang in die Vrystaat en Oos-Kaap geniet.
Luidens ’n berig in Volksblad (13 Februarie 2012) het lt.genl. Cynthia Binta, provinsiale polisiekomissaris in die Oos-Kaap, in ’n sitting van die parlementêre komitee oor die polisie gesê dié misdaad is vir eers net in dié twee provinsies ’n voorrangmisdaad.
“Die polisie oorweeg dit egter om veediefstal in van die ander provinsies ook tot ’n voorrangmisdaad te verklaar,” sê Binta. Me. Sindi Chikunga, komiteevoorsitter, sê die polisie het te min veediefstal-eenhede en hulle gaan dit in die begrotingsgesprekke met die departement bespreek. “Mense kom na die komitee en vra ons hulp met hul vee wat gesteel word.’’
Vrystaat
Wat die situasie in die Vrystaat betref, het genl.maj. Khehla Sithole, provinsiale polisiehoof, gesê ’n bedrag van R4 miljoen is verlede jaar aan die provinsie toegeken om dié misdaad te bekamp. Hy sê verskeie projekte is al begin, en die provinsie se voorkeurdistrik is Ladybrand.
“Ons voorkeur bly Ladybrand. Groot afstande tussen die onderskeie veediefstaleenhede in die provinsie bemoeilik ondersoeke. Nóg beamptes word nou opgelei,” aldus Sithole.
Veediefstal en die situasie aan die Lesothogrens was hoog op die agenda op dié vergadering, aangesien Vrystaat Landbou (VL) verlede maand ’n klag van minagting van die hof aanhangig gemaak het. Dié saak fokus op probleme langs die grens wat ondanks ’n ooreenkoms steeds voortsleep.
Doen ‘werklik’ iets
Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van die VL se veiligheidskomitee, sê hoewel hulle enige gunstige stappe en aankondigings verwelkom, sal daadwerklike uitvoering meer verwelkom word.
“Hierdie Regering hou aan om goed te sê en wette te maak, maar hulle doen nie werklik iets nie. Ons moet die goete doen.”
Breytenbach sê wat hulle verder frustreer, is dat die Polisie sê almal moet saamwerk, maar die speurders woon nie vergaderings met die landbou by nie. Hy sê sedert die loodsing van die landelike veiligheidsplan op Bethlehem verlede jaar, en die aankondiging dat spesiale veediefstaleenhede in Harrismith en die Oos-Kaap geopen sal word, het nog niks gebeur nie.
“Sover ons weet, is nog niks in die Oos-Kaap gedoen nie, en die eenheid wat op 1 Januarie vanjaar op Harrismith geopen moes word, is eers op 1 Februarie geopen. Dit is sulke goed wat ’n mens lam maak en frustreer,” sê Breytenbach.
Bron: Volksblad
13 Februarie 2012