Veediefstal: Sindikaat oopgevlek?

 

‘n Veediefstalsindikaat is moontlik in die Bronkhorstspruit-distrik oopgevlek nadat twee mans in hegtenis geneem is vir die besit van gesteelde vee, sê die SA Polisiediens.

Ajd-off. Jaco Corbett van die Polisie sê agt gesteelde beeste is in die twee mans se besit gevind. “Ons vermoed hulle was baie verskeie voorvalle van diefstal betrokke, maar ons is nog nie seker nie want nog twee verdagtes is soek.”

Volgens Corbett was die beeste die eiendom van mnr. Dries Olivier, ‘n boer van die omgewing van wie 16 beeste vroeër gesteel is. Die verdagtes verskyn Vrydag (16 Julie) in die hof.

R1,1 miljoen se vee gesteel
Corbett sê 220 stuks vee ter waarde van of R1,1 miljoen is sedert Maart verlede jaar in die omgewing van Bossemanskraal, Onverwacht, Nooitgedacht, Jakkelsfontein en Wag-en-bietjies-loop gesteel. “Sowat 90 van dié diere kon nie teruggevind word nie. Ons het die ander 130 gevind deur meestal die spore van die diere te volg soos wat die diewe hulle aangejaag het.

“Gesteelde vee word glo 40 km na ‘n versteekte kraal gejaag, van waar dit dan lewend verkoop word. Die diere se eindbestemming is onbekend,” sê Corbett.

Die twee verdagtes is aangekeer nadat die Polisie inligting ontvang het. Corbett sê hy hoop om die ander twee verdagtes binnekort op te spoor.

Situasie word ál erger
Intussen sê mnr. Thinus Erasmus, voorsitter van die Gautengse veediefstalforum, veediefstal in die provinsie vererger.

“Dit is veral erg in die Fochville-omgewing. ‘n Vrou van Fochville het my geskakel op soek na hulp nadat veediewe goedsmoeds op hulle plaas rondgery het en glo skape wou steel. Veediewe word nou só arrogant dat hulle deur die dag met hulle vragmotors rondry om te kyk waar hulle vee kan steel.”

Erasmus sê die statistieke van gesteelde vee styg weekliks, en die aanslae op veeboere raak al hoe erger. “Mense moet eet, en hulle moet daardie kos iewers kry en dit is die maklikste om dit te steel.”

Hy moedig boere aan om seker te maak hul diere is behoorlik gebrandmerk sodat dit vir die Polisie makliker is om gesteelde diere te vind en uit te ken. Volgens Erasmus het veediefstaleenhede hulle hande vol om dié misdaad te bekamp.

14 Julie 2010

0
 
 

Kommentaar

Onbekende besoeker 

AS hulle dan steel omdat hulle hoger is, moet daar n groot yskas wees waar 27 beeste sal kan inpas, want dit is hoeveel hulle op n slag steel. Veediefstal kan maar toemaak.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.