|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 22:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 71% |
| Wind: |
Die Regering het pas groter duidelikheid gegee oor die verdeling van die droogtehulp wat in Oktober verlede jaar en Januarie vanjaar aangekondig is. Uit landbougeledere is daar heelwat kritiek op die benutting van dié geld.
Die Regering is oortuig dat die R500 miljoen wat beskikbaar gestel is, genoeg is om rampskade weens die droogte op kort termyn teen te werk, het die Minister van Provinsiale en Plaaslike Regering, mnr. Sydney Mufamadi, op 'n voorligtingsbyeenkoms in die Parlement gesê.
Met kort termyn word bedoel tot einde Maart vanjaar.
Die Kabinet het reeds in beginsel nog R500 miljoen vir die volgende geldjaar goedgekeur, maar dit kan nog aangepas word.
Mufamadi het gesê van die R250 miljoen wat in Oktober toegeken is, is R134,7 miljoen geoormerk vir die subsidiëring van veevoer vir kommersiële en opkomende boere en die boor van boorgate om water aan vee te verskaf. Van hierdie geld het die Noord-Kaap R68,7 miljoen ontvang, Limpopo R33,3 miljoen, die Oos-Kaap R12,7 miljoen en die Vrystaat en Wes-Kaap elk R10 miljoen.
Uit die verdere R250 miljoen van Januarie, gaan R30 miljoen vir voersubsidies. Mpumalanga, Noordwes en KwaZulu-Natal ontvang elk R10 miljoen.
Die geld vir veevoer sal gebruik word om die koopprys en die vervoerkoste van die voer met 75 % te subsidieer. Uitbetalings word beperk tot 30 beeste of 180 skape en Boerbokke. Die geld sal nie aan boere betaal word nie, maar regstreeks aan die verskaffers en vervoerkontrakteurs.
Die provinsiale departemente van landbou moet self, met die samewerking van plaaslike owerhede en die georganiseerde landbou, dié boere identifiseer wat hulp die dringendste nodig het, asook die totale aantal diere. Boere wat in aanmerking kom, moet kan bewys dat hulle die eienaar van hul vee is.
Die provinsies moet dan die prys van die voer en die koste van die vervoer daarvan bereken (per ton of per baal). Deur die toegekende geld met hierdie bedrag te deel, word vasgestel hoeveel ton of bale voer aan boere beskikbaar gestel kan word. Met die aantal diere wat gevoer moet word en die hoeveelheid voer wat gegee kan word, bekend, kan die departement uitwerk op hoeveel voer elke kwalifiserende boer geregtig is.
Die provinsies mag nie die toegekende geld vir enigiets anders gebruik nie en moet maandeliks aan die nasionale Departement van Landbou se direktoraat vir landbourisiko- en rampbestuur verslag doen. Die direktoraat sal ook die provinsies besoek om die verspreiding van die hulp na te gaan.
'n Verdere bedrag van R20 miljoen is in Januarie deur die Regering beskikbaar gestel vir die boor van nuwe en die herstel van bestaande boorgate om water aan vee te verskaf. Hierdie bedrag is bedoel vir al die droogtegeteisterde provinsies. Die Departement van Landbou se direktoraat vir waterverbruik en besproeiingsontwikkeling is tans besig om boorgate in die betrokke kommunale gebiede te boor. Hierdie gemeenskappe word ten volle gesubsidieer. In die kommersiële landbougebiede sal boere vir 25 % van die koste verantwoordelik wees.
Intussen sê die regering van Limpopo, een van die provinsies wat die swaarste getref is, dat hy ook ander maatreëls ondersoek om boere te help. 'n Taakspan bestaande uit wetenskaplikes en ekoloë is aangestel om die ondersoek te doen. Een van die stappe wat hy oorweeg, is om geskikte natuurreservate te identifiseer waar vee in noodgevalle sal kan wei.
Mufamadi sê vir die voorsiening van water vir menslike gebruik het Mpumalanga R62,6 miljoen ontvang, Limpopo R25,5 miljoen, KwaZulu-Natal R17,9 miljoen, Noordwes R6,6 miljoen, die Oos-Kaap 5,3 miljoen en die Vrystaat en Noord-Kaap elk R3,5 miljoen.
Geld is ook aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling toegeken om die voedselsekerheid van die heel armste mense wat deur die droogte geraak word, soos plaaswerkers en kleinboere, te verseker. 'n Bedrag van R60 miljoen is hiervoor begroot. Hierdie hulp sal in die vorm van kontant, koepons of tjeks vir kos wees.
Die geld word soos volg verdeel: 'n Bedrag van R15 miljoen is vir 43 000 huishoudings in KwaZulu-Natal begroot, R20 miljoen gaan aan 57 000 huishoudings in Limpopo, R10 miljoen aan 8 400 huishoudings in Mpumalanga, R4 miljoen aan sowat 10 000 huishoudings in die Oos-Kaap, R3 miljoen aan 10 000 huishoudings in die Noord-Kaap, R5 miljoen aan 28 000 huishoudings in die Vrystaat en R3 miljoen vir 10 000 huishoudings in Noordwes.
Volgens Mufamadi besef die Regering die nood is groter as dit, maar die geld is beperk.
Mnr. Andries Botha, die Demokratiese Alliansie se woordvoerder oor die landbou, het hierdie aspek van die droogtehulp gekritiseer en sê dit maak nie sin nie.
`'Kommersiële boere is verplig om hul werkers hul volle salarisse te betaal, ten spyte van die droogte. Solank iemand dus nog in diens is, het hy nie bystand nodig nie. Boonop word geen beperking geplaas op die aantal gesinne wat op een plaas bystand mag ontvang nie, terwyl die boer net vir 30 beeste hulp kry. Dit sou baie meer sin maak om hierdie geld eerder te gebruik om werkgewers by te staan en sodoende te verhoed dat werkers afgedank word," sê hy.
Die georganiseerde landbou is van mening dat die deel van die droogtehulp wat uiteindelik by die landbou gaan uitkom, hoegenaamd nie genoeg is nie.
Volgens mnr. Johan Pienaar, direkteur van ekonomie en handel by Agri SA, kan hy nie die beginsel om ander dele van die gemeenskap ook voordeel uit die droogtehulp te laat trek, kritiseer nie. Die vraag is egter of die geld wat aan die landbou gaan, werklik 'n verskil kan maak aan die lot van 'n kommersiële boer wat onder 'n ernstige droogte ly.
Hy sê niemand weet hoe die droogte verder gaan ontwikkel nie. Die groot vraag is hoe die volgende R500 miljoen, indien dit 'n werklikheid word, aangewend gaan word. Sou daar bv. hulp aan graanboere wees?
Pienaar sê indien 150 beeste as 'n ekonomiese eenheid gesien word, is die subsidie om 30 aan die gang te hou maar 'n druppel aan die emmer.
Hiermee stem mnr. Willie Lewies, onder-voorsitter van die TLU SA, saam. Volgens Lewies dui dit óf op onkunde óf op moedswilligheid as die Regering hierdie getal beeste as 'n kernkudde beskou. Hy voel ook dit is onaanvaarbaar dat die groeiende wildbedryf uitgesluit word van die voerhulp.
Lewies sê verder dit lyk nie of die Regering duidelik onderskei tussen ramphulp om die landbousektor aan die gang te hou en maatskaplike hulp aan gemeenskappe nie. " 'n Duidelike definisie van 'n landbouramp is nodig."
27 Februarie 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24