|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 22:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 71% |
| Wind: |
Die jongste uitbreking van die H5N2-stam van die gevreesde voëlgriep-virus naby Mosselbaai aan die Suid-Kaap is onder beheer, sê die Departement van Landbou.
Nietemin het die Europese Unie (EU) 'n verbod op die uitvoer van volstruisvleis vanuit Suid-Afrika ingestel.
Volgens mnr. Steve Galane van die departement het laboratoriumtoetse by Onderstepoort in Pretoria dié virus bevestig. Die spesifieke virus is nie bekend daarvoor dat dit mense se gesondheid benadeel nie — soos wat die H5N1-stam doen nie, het hy gesê.
As 'n voorkomingsmaatreël is sowat 60 volstruise van kant gemaak wat vermoedelik die virus opgedoen het.
Volgens Galane is 'n tydelike verbod op die beweging van volstruise in en uit die geaffekteerde gebied ingestel. Daarby is 'n verbod op die uitvoer van volstruisvleis vanuit Mosselbaai en die Riversdal-distrik geplaas.
Die EU het wel twee weke gelede die Departement van Landbou in kennis gestel dat hy alle uitvoer van volstruisvleis uit Suid-Afrika verbied. Dié jongste verbod volg nou kort op die hakke van 'n verbod wat in Augustus 2004 ingestel is en in Oktober verlede jaar opgehef is.
Die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer sê die jongste verbod gaan nie 'n noemenswaardige ekonomiese uitwerking op die plaaslike volstruisbedryf hê nie omdat dit tans lae seisoen in Europa is. Met die vorige verbod is uitvoerverdienste van sowat R700 miljoen en ongeveer 4 000 werkgeleenthede verloor. Die plaaslike bedryf verdien die grootste deel van uitvoerverdienste uit volstruisleer en -vere wat nie deur die jongste verbod geraak word nie.
Galane het die plaaslike bedryf geloof vir hul samewerking en gesê vinnige optrede het gesorg dat die uitbreking van die siekte tot een bepaalde gebied beperk was.
28 Julie 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24