|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 22:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 71% |
| Wind: |
Voerskenkings van meer as 40 ton, wat van boere in die Vrystaat en Gauteng ontvang is, word tans aan produsente in die droogte geteisterde Suid-Kaap oorhandig, sê Agri Klein Karoo. Luidens ‘n verklaring is sowat 9,5 ton hooi en meer as 30 ton mielies ontvang.
In die distrikte van Herold en Haarlem het mnr. Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse Minister van Landbou en Landelike Ontwikkeling, van die skenkings Vrydag (11 Junie) aan sowat 60 opkomende boere en vyf kommersiële boere uitgedeel. Hy het ook Maandag (14 Junie) skenkings aan boere in die Uniondale-distrik oorhandig.
“Dit is die oorhandiging van die eerste 120 sakke hooi en sowat 290 sakke mielies. Daarna sal ander gebiede in die streek ook hulp ontvang uit die res van die skenkings, wat tans deur Klein Karoo Handel en Dienste in Oudtshoorn gesak word,” het Van Rensburg gesê.
Ander produsente het ook hulp nodig
Hoewel Van Rensburg sy opregte dank vir dié gebaar uitgespreek het, het hy ook opgemerk dat produsente in veral die omgewings van Riversdal, Albertinia, Mosselbaai en Heidelberg ook dringend steun nodig het.
Mnr. Gerrit van Rensburg en boere van Haarlem en Avontuur wat skenkings ontvang het. Foto: VERSKAF
Hy is ook bedank vir vervoer van die voer na Oudtshoorn, wat deur middel van fondse wat sy departement beskikbaar gestel het, moontlik gemaak is. Malan Jonck en Jonckies Vervoer behartig die verspreiding van die voer.
Groot verligting
Mnr. Piet Lodder, hoofbestuurder van Agri Klein Karoo, sê die skenkings bring groot verligting. “Namens die lede van Agri Klein Karoo bedank ons elkeen van hierdie mede-landbouers oor Suid-Afrika vir hul bydraes om die nood te verlig.”
Mnr. Junior Joubert en sy span mede-produsente van die Delmas-omgewing het die mielies geskenk, terwyl mnr. Dean Erasmus en sy span medeboere vir die hooi-skenkings bedank is.
Agri Klein Karoo het intussen vir ‘n bykomende R50 miljoen se droogtehulp by die Wes-Kaapse landboudepartement aansoek gedoen. Dit is bykomend by die R26,9 miljoen wat verlede jaar aan Oos-Kaap toegestaan is. Die versoek is na me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, verwys.
15 Junie 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)