|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 22:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 71% |
| Wind: |
Daar word dikwels gesê die verkoopsyfers van nuwe voertuie
weerspieël die stand van 'n land se ekonomie. Maar hoe bring
'n mens die kloutjie by die oor wanneer die verkope van
passasiersmotors daal, terwyl die verkope van handelsvoertuie
terselfdertyd styg? 'n Bedryfsleier werp lig op hierdie raaisel.
Suid-Afrika se motorbedryf het verlede
jaar 5,4 % minder nuwe voertuie
as in 2006 van die hand gesit.
Volgens die Nasionale Vereniging
van Voertuigvervaardigers (Naamsa) is altesame
676 097 nuwe voertuie verlede jaar
plaaslik verkoop.
Mnr. Brand Pretorius, voorsitter van
McCarthy Motor Holdings, meen hierdie
vertoning weerspieël 'n tydperk van konsolidasie
waarin die bedryf homself ná drie
jaar van beduidende groei bevind.
Passasiersvoertuie is egter die enigste
marksektor wat verlede jaar 'n afname in
verkope teenoor 2006 getoon het. Die verkope
het met 9,7 % tot 434 633 nuwe eenhede
gedaal. Hierdie marksektor word gewoonlik
eerste geraak deur enige verwikkelings
in die ekonomie, soos 'n daling in sake- en
verbruikersvertroue en 'n styging in die
rentekoers. Die Nasionale Kredietwet, wat
in Junie verlede jaar in werking getree het,
het ook 'n nadelige uitwerking gehad.
Verder het 'n verswakking in voertuigbekostigbaarheid
verlede jaar kop uitgesteek. Dit is deur prysstygings, laer inruilwaardes
en hoofsaaklik die verhoging (met twee
persentasiepunte) van die prima-uitleenkoers
veroorsaak. Daarby het huishoudelike
skuld as 'n persentasie van besteebare
inkomste 'n rekordhoogtepunt van 77,4 %
bereik. Dit het dit vir verbruikers moeilik
gemaak om nóg krediet te bekom.
Maar, sê Pretorius, die totale verkoopsyfer
van 676 097 nuwe voertuie is steeds
9,4 % hoër as dié van 2005 en meer as dubbel
die totale verkope in 1999. Verlede jaar
se werklike verkope is waarskynlik hoër as
Naamsa se syfer omdat verskeie onafhank-
like invoerders van Chinese voertuie nog
nie hul verkoopsyfers by die vereniging
aanmeld nie.
Die verkope wat hierdie maatskappye
verlede jaar aangeteken het, word op sowat
10 000 eenhede geskat. Dit sal die bedryf se
algehele verkope verlede jaar op 686 097
eenhede te staan bring, verduidelik Pretorius.
In teenstelling met die mark vir passasiersvoertuie
het die mark vir handelsvoertuie
verlede jaar beter gevaar as in 2006.
'n Paar nuwe hoogtepunte is selfs bereik.
Die verkope van ligte handelsvoertuie
het die eerste keer deur die kerf van 200 000
eenhede gebreek. Die verkope het met 2,4 %
gestyg en einde Desember verlede jaar op
204 395 eenhede te staan gekom.
Die afdeling vir medium-handelsvoertuie
het die jaar met 'n rekordsyfer van
15 168 eenhede afgesluit, wat 6,5 % meer
voertuie as in die vorige jaar is.
Die 21 901 eenhede wat verlede jaar
in die afdeling vir swaar handelsvoertuie
verkoop is, kom op 'n styging van 16,3 %
teenoor 2006 neer. Dit is ook 'n rekord.
Pretorius skryf hierdie goeie syfers toe
aan groter sakebedrywighede danksy die
groei in die bruto binnelande produk (BBP)
van 'n geskatte 4,5 % verlede jaar sowel as
groot beleggings in infrastruktuuronwikkeling,
wat tot groter kapitaalbesteding
gelei het.
Die verkope van handelsvoertuie het 'n
verdere hupstoot deur die taxi-herkapitaliseringsprogram
en die voortgesette groei in
padvervoer gekry.
'n Interessante ontwikkeling die afgelope
paar jaar is die groot afname in die markaandeel
van groot en mediumpassasiersvoertuie.
Dit het die samestelling van die
motormark aansienlik verander.
In 2002 het mediumgroot passasiersmotors
49,6 % van die mark uitgemaak, maar
dit het verlede jaar tot 39,4 % gedaal. Die
markaandeel van groot passasiersmotors
het in dieselfde tyd van 7,1 % tot 5,1 % gedaal.
Ander segmente, soos ontspanningsvoertuie,
het heelwat beter in die onlangse
strawwe marktoestande gevaar en hul
markaandeel van 12,4 % in 2002 tot 18,8 %
verlede jaar vergroot. Dieselfde is van toepassing
op die sogenaamde sport- en eksotiese
voertuie. Hul markaandeel het van
0,6 % tot 1,1 % toegeneem.
In 2002 het klein passasiersmotors 30,4 %
van die mark uitgemaak. In 2006 het dit tot
39,6 % gegroei, maar verlede jaar tot 35,6 %
teruggesak.
Wat die segment vir ligte handelsvoertuie
betref, het halfton-bakkies hul markaandeel
van 21,1 % in 2001 tot 30,1 % verlede jaar vergroot.
Aan die ander kant het eenton-bakkies
(4x2) sedert 2001 heelwat markaandeel
afgestaan. Toe het dit 58,1 % van die mark
uitgemaak, maar verlede jaar net 44,6 %.
Die taxi-herkapitaliseringsprogram het
minibussies met 10 tot 16 sitplekke gehelp
om hul markaandeel van 5,4 % in 2002 tot
'n rekordvlak van 9,7 % einde verlede jaar
te verhoog.
Verlede jaar is daar vir eerste keer meer
ingevoerde passasiersvoertuie as plaaslik
vervaardigde eenhede verkoop. In 1998 was
net 12,6 % van nuwe motors ingevoerde
voertuie, terwyl dit verlede jaar altesaam
55,7 % van die mark verteenwoordig het.
Pretorius meen die verkope van passasiersvoertuie
sal vanjaar verder daal omdat
verdere verhogings in die rentekoers
verwag word. Daarby sal verbruikers se
besteebare inkomste verder onder druk geplaas
word deur verwagte groot stygings in
die brandstofprys, die koste van elektrisiteit
en voedselpryse.
Pretorius voorsien vanjaar 'n afname
van 6,2 % in algehele voertuigverkope, wat
die verkope op 634 100 eenhede te staan
sal bring. Die verkope van passasiersmotors
sal na verwagting met nagenoeg 8 %
tot 400 000 eenhede daal en dié van ligte
handelsvoertuie met 5,1 % tot 'n geskatte
194 000 eenhede.
Kopers sal vanjaar kan kies en keur aangesien
spesiale aanbiedinge na verwagting
aan die orde van die dag sal wees. Klante
sal die grootste keuse van modelle en fabrikate
nóg hê.
"Swart koopkrag sal nog verder versnel,
terwyl private huurkoop die druk
van voertuigbekostigbaarheid behoort te
verlig," sê Pretorius. "Die verwagte herstel
in die mark vir gebruikte voertuie behoort
handelaars in staat te stel om meer aanvallend
handel te dryf."
Aan die ongunstige kant is hy besorg
dat die wêreldwye klem op krediet na die
Suid-Afrikaanse ekonomie kan oorspoel.
Daarby kan die prys van sommige voertuie
styg weens die verwagte daling in die
waarde van die rand, die uitwerking van
plaaslike inflasie en groot stygings in die
prys van staal, plastiek en verf.
Die merkwaardige vertoning van die
handelsvoertuigsektor die afgelope vyf jaar
het die samestelling van die plaaslike nuwevoertuigmark
aansienlik verander. In 2006
het handelsvoertuie vir 32,6 % van algehele
nuwevoertuigverkope gesorg. Vanjaar sal
dit na verwagting 37 % beloop, aldus Pretorius.
Landbouweekblad, 8 Februarie 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24