Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Von Abo is ‘baie dankbaar’

 

“Ek is baie dankbaar dat ek na ‘n agt jaar lange stryd uiteindelik bo uitgekom het!”

Só sê mnr. Crawford von Abo na die Noord-Gautengse Hooggeregshof beslis het dat hy daarop geregtig is om skadevergoeding van die Suid-Afrikaanse Regering te eis vir sy grond wat in Zimbabwe gegryp is. Von Abo het agt jaar gelede al met regsaksie begin nadat 14 van sy plase in Zimbabwe onteien is.

Volgens mnr. Ernst Penzhorn, Von Abo se regsverteenwoordiger, het die hof beslis dat hy geregtig daarop is om die skade wat hy deur die onteiening gelei het, van die Suid-Afrikaanse Regering te verhaal.

“Dit is wel ‘n aansienlike bedrag, maar is nog nie finaal vasgestel nie. Daar is lankal al waardasies gedoen maar die finale berekenings moet nog gemaak word. Die bedrae van onder andere R500 miljoen wat tans in mediaberigte verskyn, is nie waar nie!”

‘n Beginselsaak
Penzhorn sê dit gaan nie vir hulle soseer oor die geld nie, maar “is ‘n beginselsaak”. Von Abo het dit ook aan Landbou.com gesê. Luidens ‘n berig van Beeld (30 Julie 2008) het die Pretoriase hooggeregshof bevind dat Von Abo, na ‘n jarelange stryd, geregtig is op diplomatieke beskerming van die Suid-Afrikaanse Regering nadat sy plase in Zimbabwe onteien is.

Volgens die berig het regter Bill Prinsloo toe gesê: "Die onvermoë van die respondente (die Suid-Afrikaanse Regering, pres. Thabo Mbeki en die ministers van Buitelandse Sake, Handel en Nywerheid, en Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling) om die applikant (Von Abo) se aansoek om diplomatieke beskerming redelik te oorweeg, daaroor te besluit en te hanteer, is teenstrydig met die Grondwet en ongeldig.".

Nóg ‘n hofaansoek
Penzhorn sê hy gaan nou aansoek doen vir ‘n nuwe verhoordatum sodat deskundiges se getuienis oor Von Abo se eis, en dít wat sy plase en besittings werd was, aangehoor kan word.

“Hy het een van die grootste boerderye in Zimbabwe gehad. Party was beesboerderye, ander saaiboerderye. Daar was ook tabak- en mielieboerdery, en hy het die grootste privaatdam in Zimbabwe op een van sy plase gehad,” verduidelik Penzhorn.

Met die opstel van Von Abo se eis moet in ag geneem word dat in baie gevalle alles op die plase – vee, implemente asook van die huise en besittings binne die huise – geneem is, sê hy.

8 Februarie 2010

3