Die publiek se verwagtinge is dat daar dadels gaan kom van 'n uitspraak deur die Hooggeregshof teen die Suid-Afrikaanse Regering omdat hulle nagelaat het om mnr. Crawford von Abo, 'n mielieboer, diplomatieke beskerming te bied toe hy al sy besittings in Zimbabwe verloor het.
Von Abo, 'n voormalige voorsitter van die Mielieraad en Koringraad, het in die hof aangevoer hy het 'n reg op diplomatieke bystand gehad toe pres. Robert Mugabe ál sy plase, vee, wild en ander besittings genasionaliseer het.
Die hof het die Regering gekritiseer omdat hy sy pligte versuim het. Die hof het mnr. Thabo Mbeki, president, me. Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van Buitelandse Sake, en mnr. Mandisi Mpahlwa, Minister van Handel en Nywerheid, 60 dae tyd gegun om die nodige stappe te doen om die onregte teen Von Abo reg te stel.
Regter Bill Prinsloo het in sy uitspraak die Regering oor die vingers getik omdat hy nie Von Abo gehelp het nie.
Mense se skeptisisme oor die gevolge van die hofbevel is gebaseer om Mbeki se beleid van stille diplomasie, want hy versuim om standpunt teen dié land in te neem. Die vraag is verder wat van die ander sowat 300 Suid-Afrikaanse boere gaan word wie se grond afgevat is.
Adv. Ernst Penzhorn, Von Abo se regsverteenwoordiger, is nietemin verheug dat hulle die saak gewen het. Hulle moet nou Grondwethof toe gaan om die hofbevel te laat bekragtig.
1 Augustus 2008