Die regsverteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse boer, mnr. Crawford von Abo sê die uitspraak van die Pretoriase Hooggeregshof baan die weg vir ander Suid-Afrikaanse sakemense met belange in Zimbabwe.
Luidens 'n berig op Radio Sonder Grense (RSG) het dié hof die Suid-Afrikaanse Regering beveel om binne 60 dae stappe te doen om die skending van Von Abo se regte deur die Zimbabwiese regering reg te stel.
Von Abo het 14 plase in Zimbabwe veloor nadat dit deur grondbesetters oorgeneem is. Die regter het verder die Suid-Afrikaanse Regering se versuim om Von Abo se aansoek om diplomatieke beskerming te oorweeg, daaroor te besluit, of stappe te neem, as ongrondwetlik verklaar.
Von Abo se aansoek om vergoeding van R80 miljoen rand van die Suid-Afrikaanse regering vir die verliese wat hy gely het, is onbepaald uitgestel, aldus die berig op RSG.
29 Julie 2008