JAN CILLIERS
Ná onderhandelings van drie jaar het die koringbedryf uiteindelik ooreengekom oor 'n nuwe graderingsmatriks vir broodkoring. Daar is weggedoen met die subklasse binne die broodklas sodat daar nou net vier broodklasse pleks van nege sal wees.
Mnr. Bully Botma, voorsitter van Graan Suid-Afrika, het gesê Graan SA, Graan Silo Nywerhede en die Nasionale Meulenaarskamer het dié ooreenkoms bereik. Die kontrak vir Desember 2003 op die landboutermynmark van Safex het op 24 Februarie volgens die nuwe ooreengekome grade begin verhandel.
Hy het gesê koring se graderingsregulasies sal op 1 Oktober gewysig word om die nuwe grade vir broodklasse, naamlik B1, B2, B3 en B4 te weerspieël. Die utiliteitsgraad word behou en alle koring wat nie in die broodklas val nie, sal as klas Ander verhandel word. Net grade B1, B2 en B3 sal op termynmarkkontrakte gelewer kan word.
Die gehaltestandaarde vir die verskillende grade word in die bygaande tabel aangedui.
Mnr. Botma het gesê dat nie ooreengekom kon word oor 'n supergraad vir broodkoring nie. Onderhandelings hieroor word voortgesit.
Gehaltestandaarde vir broodkoring
Graad Proteïen Hektolitergewig Valgetal
% Kg Sek.
B1 12 77 250 (30 sek.
toleransie)
B2 11 76 250 (30 sek.
toleransie)
B3 10 74 250 (30 sek.
toleransie)
B4 9 72 200
Utiliteit 8 70 150
7 Maart 2003